MOSSELBAAI NUUS - Die Mossel Bay Care Centre het 'n bedrywige jaar afgelsuit met 'n klomp Kersfeesvieringe waarby oud en jonk betrek is. Op 11 Desember het hulle die kleintjies van Powertown-kleuterskool bederf. Elkeen het 'n geskenk ontvang, lekker poeding en vla geëet, koeldrank gedrink en 'n pakkie sagte lekkers ontvang.
"Ons wil vir Heleen Coertze (Grootbrak Gallery) en haar man Jan Coertze (Prime Cleaners in George) bedank vir hulle bydrae. Met hulle bydrae kan ons ook vir al die skoolgaande kinders in Powertown en sommge van Sonskynvallei, wat in ons nasorg was 'n Kerspartytjie op 22 Desember gee.
Baie dankie vir al die kinderhartjies wat julle verbly. Dankie ook aan Basson Piek en dr Snyman," sê Delene Berry van die organisasie.
Ridgeview Primêre Skool se spannetjie het hulle beurt om fees te vier op 7 Desember gekry. Die Kerspartytjie is op die skoolgronde gehou. Die verpleegsters van Life Bay View-hospitaal het weer eens die kinders vermaak. Daarna is die kinders getrakteer met hoender, slaai en broodrolletjies. Na die spelery is daar koek, jellie en vla bedien. Kersvader het ook opgedaag en aan elke kind 'n geskenk oorhandig. Hulle het 'n lekkergoedpakkie gekry om saam te neem huis toe.
"Ons wil baie graag vir Len Swanepoel van Bayloans bedank wat alles geborg het, die verpleegsters, Hans Bekker wat Kersvader was en 'n baie groot dankie aan Yolandi Claasens vir die groot taak om geskenke in te samel. Almal wat skenkings gedoen het, baie dankie."
Ook die oues van dae het hulle beurt gehad. Eden Country Inn het weer eens 'n heerlike Kersete aan die Mossel Bay Care Centre se begunstigdes geborg. "Baie dankie aan die Eden Country Inn, ons waareer dit baie. Ek wil ook vir Elsa en Eghardt baie baie dankie sê vir hulle jaarlikse ondersteuning. Hulle doen elke maand kosaankope vir hierdie mense. Amanda help ons met ons projekte en ons waardeer haar hulp regtig baie."
Die Eden Country Inn het weer eens 'n Kersete vir senior burgers gehou.
Kleuters het ook 'n Kerspartytjie gehou danksy die Mossel Bay Care Centre.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'