MOSSELBAAI NUUS - Omgee-groepe wat hoegenaamd die landbouers in die wurggreep van 'n ongekende droogte van hulp wil wees, word genooi om enige nie-bederfbare voedsel, veral meel, suurdeeg, poeiermelk, blikkieskos, batterye - ook vir motors - en enige veevoer te skenk en by Theuns Kritzinger by JK Steel te besorg.
Die Kom Tuis Christengemeente van ds Gielie Joubert hou ook op Sondag, 28 Julie om 16:30 op die hoek van Beldon- en Barlowstrate in Heiderand 'n spesiale liefdegawe-insameling, hetsy kontant of kruideniersware.
Enige kontantbydraes sal gebruik word om proviand of brandstof vir die droogtegeteisterde landbouers en hul gesinne aan te koop.
Rietbron
Intussen gaan werk fluks voort om in die gemeenskap van Rietbron 'n droogtestoor of noodspens op te rig. Die gemeenskap word genooi om enige droë proviand soos suiker, speserye, broodmeel en mieliemeel, klere en ander benodigdhede vir hierdie doel te skenk.
Burre Burger, die groot stukrag agter noodleniging vir die landbouers het bevestig dat Mosselbaai se depot vir droogtehulp ingerig is by Theuns Kritzinger se fasiliteite.
"Die boere se noodvoorrade, hul gesinskos en spaargeld is lank reeds uitgeput. Die boeregemeenskap het hulp nodig om te oorleef, om in staat gestel te word om kos te produseer sodat die res van ons kos op ons tafels kan hê. Boere is nie mense wat bakhand staan nie, hulle is meer gewoond daaraan om met 'n ruim hand bydraes te maak vir kerkbasaars en skoolbyeenkomste. Hulle is die stille werkskeppers, die ruggraat van vele kleiner plattelandse gemeenskappe. Nou is die kans om hulle van hulp te wees."
Inwoners wat deel wil vorm van die uitreik word genooi om met Theuns (082 376 5115) of ds Gielie (072 137 3535 of 044 696 6850) te kontak. Kontantdonasies is welkom en kan 'n groot bydrae maak om veral brandstofkoste te delg.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'