Update
HESSEQUA NUUS - Die toestemming om weer eredienste te begin hou, onderhewig aan streng veiligheidsmaatreëls, blyk nie vir alle kerke prakties uitvoerbaar te wees nie.
Hoewel sommige 'n proefneming in die "nuwe normaal" gaan doen, het ander gemeentes besluit om voort te gaan soos gedurende die afgelope twee maande.
Pastoor Phil Smythe van die Langeberg Christian Fellowship op Heidelberg sê hulle het besluit om 'n kans te waag. "Dienste sal op Sondag, 14 Junie as 'n toetslopie hervat word. Indien meer as 50 mense opdaag sal ons twee byeenkomste hou. Die musikante sal een of twee liedjies speel, maar soos wat die reëls vereis, sal daar geen gemeentesang wees nie."
Ook die United Church op Stilbaai gaan weer dienste in die kerk begin hou, maar eers vanaf 28 Junie af. "Ons gaan net 45 mense op 'n slag toelaat. 'n Opname deur die kerkraad het getoon 65% van die gemeentelede voel nie gereed om weer kerk te begin bywoon nie en preke en Bybelstudies sal steeds tuis aan hulle voorsien word." Dominee Ronnie Cawood het benadruk alle reëls met betrekking tot maskers, sosiale afstand en ontsmetting sal nagekom word. Die kerkraad het ook besluit om die kerkdeure weer te sluit indien enige skerp styging in Covid-19-gevalle sou voorkom.
Riversdal se AGS-gemeente daarenteen, het besluit om nog nie met dienste te begin nie. Dominee Francois Barnard sê kerkleiers het 'n groot verantwoordelikheid om gemeentelede veilig te hou terwyl die Woord aan hulle bedien word: "Daar is soveel reëls wat gaan keer dat kerk normaal kan voel. Fisiese dienste gaan nie op die oomblik dieselfde impak hê nie, terwyl lidmate terselfdertyd 'n moontlike risiko van blootstelling aan die virus loop." Hulle gaan voort met daaglikse boodskappe op YouTube en lidmate wat dit nie kan kyk nie, ontvang die materiaal op cd's of geheuestokkies. "Die koninkryk groei ten spyte van toe kerkdeure," sê hy.
Ook in die NG Kerk Stilbaai sal die status quo vir eers bly soos dit was. Volgens ds Francois Taljaard sal die saak op die volgende kerkraadsvergadering indringend bespreek en 'n besluit dan geneem word. Intussen word preke steeds in video- en klankformaat op Facebook en YouTube aan lidmate beskikbaar gestel.
Vorige artikel: Oop kerkdeure... of nie
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'