MOSSELBAAI NUUS - Na die gevoeilige slag wat die Pinkster Protestante Kerk Emmanuel in Heiderand toegedien is, toe pastoor Johan van Eeden (50) na slegs drie weke in Mosselbaai as leier van die gemeente, in Julie vanjaar voor sy huis in De Bakke doodgeskiet is, is die gemeente verheug om 'n nuwe pastoorspaar, Jan en Natasha Bezuidenhout te verwelkom.
Die Bezuidenhouts het in Mosselbaai, meer spesifiek Danabaai kom hervestig nadat hulle drie jaar by 'n gemeente in Ellisras bedien het. Pastoor Jan staan reeds 11 jaar in die bediening en het ook voorheen 'n evangelistiese bediening gehad wat die paartjie regoor die land geneem het.
Die Bezuidenhouts het pastoor Johan van Eeden geken en beskryf hom as "iemand wat uitverkoop was aan die Here".
Pastoor Jan Bezuidenhout het op 7 Oktober sy intreepreek by die PPK Emmanuel gelewer.
"Die Here het ons 'n herstelbediening gegee. Ons word telkens geroep na gemeentes waar daar herstel benodig word," vertel pastoor Jan. Hy sê ook, dat hulle met ope arms in Mosselbaai verwelkom is en dat die gemeente, ten spyte van die trauma wat die PPK beleef het na aanleiding van pastoor Van Eeden se dood, gesond en gereed vir die pad vorentoe is.
Pastoor Jan het ook 'n sterk musiekbediening en het al die verhoog gedeel met van Suid-Afrika se bekendste gospelsangers. Hy het ook reeds drie solo CD's op sy kerfstok.
Sy vrou, Natasha, het 'n besonderse vrouebediening. "Die Here het die visie met my gedeel dat veral vroue hulleself nie sien soos God hulle sien nie. Daar is etlike voorbeelde van hoe vroue moet wees en moet lyk in die media beskikbaar. As jy gaan Google oor die ideale vrou, sal jy baie antwoorde kry, maar wat sê die Bybel?"
Haar bediening is daarop gemik om vroue, te midde van toenemende samelewingsdruk, se eiewaarde te herstel. Sy beoog ook om in 2019, te fokus op die gemeente se kinderbediening.
Die egpaar het 'n 23-jarige seun wat in Ellisras werk.
"Siele is my hart en my passie. Ons moet onthou, die Koninkryk word uitgebrei elke keer wat ons mense bereik wat ons nie voorheen in die kerk gehad het nie."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'