MOSSELBAAI NUUS - Die ACVV Kenani het afskeid geneem van 'n strydros wat vir amper drie dekades haar tyd en energie aan bejaardes opgeoffer het. Op 1 Augustus 1991, het Kitty Eigelaar, Magda van der Merwe en Georeen van Rensburg 'n dienssentrum begin. 'n Kliphuis in Montagustraat is deur 'n ene mnr en mev Fourie hiervoor tot hulle beskikking gestel.
Op 1 Maart 1994 voer die vroue samesprekings met die destydse burgemeester van Mosselbaai, Johan Oosthuizen, die stadsklerk, Willem van Heerden en nog 'n amptenaar, Allen Green aangaande die aankoop van die huise wat aan die Kaapse Provinsiale Administrasie behoort het.
Die huise is deur die Mosselbaai-munisipaliteit teen 'n minimale prys aan die dienssentrum toegeken. So begin 'n nuwe fase in die dienssentrum se geskiedennis en daarmee saam kom die naamsverandering soos dit vandag nog bekend staan, ACVV Kenani-dienssentrum.
Oor die jare heen, het baie veranderinge plaasgevind, maar die dienssentrum word nog altyd op die oorspronklike perseel bedryf. Kitty Eigelaar het tydens haar termyn as voorsitter met baie bestuurders, personeel en beheerraadslede saamgewerk en Kenani uitgebou as 'n voortreflike, nie-winsgewende organisasie. Tans resorteer die beskermende werkswinkel, waar vaardigheidsontwikkeling vir gestremdes gedoen word, asook Huis Trebla en die Kenani-aftreeoord onder die beheer van die dienssentrum.
Verskeie toekennings het Kitty Eigelaar tydens haar termyn te beurt geval, onder andere die Veteraan vrou van die jaar (2012) en die Rotariërklub van Mosselbaai se gesogte, Burger van die jaar (2016).
Sy is voorwaar 'n voortreflike vrou wat diep spore getrap het in die geskiedenis van Mosselbaai. Haar medemenslikheid het sy ten volle uitgeleef. en sy word geloof vir haar onbaatsugtige opofferings, haar toegewydheid en behulpsaamheid oor baie jare.
"Mevrou Eigelaar, u word sterkte toegewens noudat u 'n blaaskans neem. Mag u uittrede net so geseënd wees soos u jare van dienslewering aan u gemeenskap," groet die dienssentrum haar.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'