Update
MOSSELBAAI NUUS - Inwoners van Gys Smalbergerstraat op Mosselbaai het regshulp ingewin nadat verskeie klagtes oor beweerde lawaai by Patrick's Pub and Restaurant in Marshstraat glo op dowe ore val.
Gys Smalbergerstraat is aan die restaurant se agterkant geleë en is een van die oudste strate op Mosselbaai.
Die straat bestaan uit talle enkel residensiële woonhuise, asook 'n woonstelblok met 18 eenhede.
Inwoners beweer hulle het reeds etlike klagtes by die polisie op Mosselbaai, by die munisipaliteit, asook by Patrick's ingedien oor harde musiek, dronkenskap en lawaai wat glo soms tot laat saans by die perseel voortduur.
Die Gys Smalbergerstraat-vereniging sê in 'n prokureursbrief dat in die verlede het inwoners van die gebied geen probleme met die manier waarop die besigheid bedryf word gehad nie.
Die vereniging sê egter die situasie het oor die afgelope paar maande drasties verander.
Hulle beweer Patricks het sy bedrywighede uitgebrei na 'n tipe nagklub, waar op sekere geleenthede slegs persone bokant die ouderdom van 21 toegelaat word. 'n Platejoggie word ook glo tydens die geleentheid gebruik en inwoners sê hulle en hulle kinders sukkel om saans te slaap.
Klagtes
Wyksraadslid 8, Lodewyk Coetzee sê hy is bewus van die probleem.
"Dit wil voorkom of daar nie 'n sinergie tussen die inwoners en die besigheid bestaan nie."
Coetzee sê hoewel inwoners aangemoedig word om klagtes in te dien, daar dikwels nie wetstoepassers beskikbaar is om dadelik op die klagtes te reageer nie.
"Besoekers aan Patrick's mag nie buite staan en raas nie. Hulle moet volgens die Drankwet binne die perseel wees. Die lisensiehouer is al hieroor kennis gegee en daar is gevra dat daar aan die kwessie aandag gegee moet word, so nie sal die Drankraad optree."
Coetzee sê dit wil voorkom asof die besigheid nie respek vir die residensiële gebied het nie. Volgens hom is die sonering van die perseel nie dié van 'n nagklub nie.
Inwoners beweer dat die restaurant na 'n tipe nagklub omskakel en partytjies soos die word geadverteer.
"Ons verstaan dat daar ekonomiese aktiwiteite in die dorp moet gebeur, en inwoners is bewus dat hulle in 'n sentrale sakekern woon, maar daar is streng maatrëels waarbinne die besigheid bedryf moet word."
Lid van die onderneming se Beslote Korporasie (BK), Albert Wiffen sê hulle doen binne al die reëls besigheid.
"Ons was en is altyd beskikbaar indien iemand wil gesels of oor die kwessie wil vergader."
Gys Smalbergerstraat bestaan uit 'n verskeidenheid woonhuise asook 'n woonstelblok met eenhede.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'