Gallery Update Video
KLEIN-BRAKRIVIER NUUS EN VIDEO - Inwoners by die Eden Country Inn in Klein-Brakrivier het Saterdag vroegoggend met rook en berigte van 'n brand wat by een van die eenhede naaste aan die rivier ontstaan het, wakker geword.
Jessie Kerkhof, 'n kuiergas by Eenheid 1, het 'n plofgeluid gehoor toe die vensters van die eenheid waar die brand ontstaan het, weens die hitte van die vlamme ontplof het.
Sy het alarm gemaak. Om 08:17 op 23 Februarie is die nooddienspersoneel van die Mosselbaai brand- en rampbestuursdienste ontbied.
Michael Britz, ook van eenheid 1 en net langs die eenheid waar die brand vermoedelik ontstaan het, het die ander inwoners onmiddellik gaan wakker maak en gasbottels by dié eenhede ontkoppel terwyl Cherné Breedt begin help het om die eenhede te ontruim. Cherné vertel dat haar vyf-jarige dogtertjie hulle wakker gemaak het toe sy die vlamme gesien het.
"My twee katte was ook slagoffers, die een het ons lank na die tyd opgespoor, die ander een is nog soek," sê Cherné. Sy sê die Garden Route Dierebeskermingsvereniging (DBV) Mosselbaai behandel tans haar kat en daar is hoop op 'n algehele herstel.
Een eenheid, waar die brand vermoedelik ontstaan het, is vernietig terwyl brand- en rookskade by vyf ander eenhede veroorsaak is. Geen beserings is aangemeld nie.
Terwyl brandbestryders en ander noodwerkers die brand geblus het, het 'n inwoner 'n katjie uit die puin gered en is besittings uit die ander eenhede verwyder. Hotelpersoneel het ordelik die kinders in die eetkamer van die hotel versamel waar hulle verversings bedien is. Enkele van die ouer inwoners het ook die stilte van die eetkamer bo die geharwar van die reddingswerk verkies.
Mede-eienaar Jimmy Stergianos het aan die Mossel Bay Home Ads News bevestig dat die werknemer wat in die eenheid woon waar die brand vermoedelik ontstaan het, nie tuis was ten tye van die brand nie.
Hy het sy dank teenoor raadslede Dirk Kotzè, Annatjie Janse van Rensburg en Anton Dellemijn uitgespreek vir hul ondersteuning.
"My opregte dank ook aan die nooddienswerkers wat baie vinnig op die toneel was."
Koeldrank en koue water is tydens die reddingswerk aan brandbestryders, polisielede en die slagoffers van die brand uitgedeel. Inwoners se besittings het in hopies buite op die ryvlak gestaan terwyl 'n gees van verslaentheid onder inwoners opvallend was. By enkele van die eenhede het werkers kort na die brand steeds gehelp om besittings uit te dra, gordyne af te haal en breekgoed in houers te pak.
Stergianos het gesê die hotel is tans nie ten volle beset nie en dat alle brandslagoffers in die res van die hotel 'n heenkome sou kry.
Raadslede van die Mosselbaai-munisipaliteit was gou op die toneel om 'n behoeftebepaling te doen en om seker te maak dat hulp, waar nodig verleen word.
Kyk 'n video hieronder:
Koeldrank en koue water is tydens die reddingswerk aan brandbestryders, polisielede en die slagoffers van die brand uitgedeel.
Een eenheid, waar die brand vermoedelik ontstaan het, is vernietig terwyl brand- en rookskade by vyf ander eenhede veroorsaak is.
'Ons bring jou die nuutste Klein-Brakrivier, Tuinroete nuus'