GROOT-BRAKRIVIER NUUS - 'n Inwoner van Groot-Brakrivier het onlangs haar kommer oor troeteldiere se veiligheid uitgespreek ná haar kat na bewering vergiftig is.
Andréa van der Merwe woon in die gebied agter die Groot Brak-polisiestasie en sê dis nie die eerste keer dat so iets met haar katte gebeur nie.
Haar een kat, Hazel, is sowat drie jaar gelede op 10 maande dood ná sy glo 'n tweede keer vergiftig is. Met die eerste keer was hulle betyds, maar met die tweede een was hulle nie so gelukkig nie.
Lila, haar ander kat wat vroeër in April tydens 'n voorval vergiftig is, het gelukkig oorleef.
Van der Merwe sê haar kat is meestal in die huis en sal nie sommer verder as 'n huis weg rondloop op die kere wat sy wel uitgaan nie.
Sy het haar ontsteltenis op die Facebook-groep 'Groot-Brakrivier' uitgespreek. Ander inwoners het op dié plasing gereageer en gesê dieselfde het hulle ook al oorgekom.
Dr. Jean du Plessis, 'n veearts van Croft Animal Hospital waar Lila behandel is, sê hulle vermoed dit was 'n tipe gif, organofosfaat. Lila het tipiese tekens daarvan getoon.
Hy sê hulle het al oor die jare en in dieselfde gebied waarin Van der Merwe woon soortgelyke gevalle in katte en honde gesien. Hy sê egter dit is moeilik om te bewys of die dier doelbewus die gif ingekry het en of dit dalk iets soos miergif was, wat ook organofosfaat bevat.
Du Plessis se raad is om die dier so gou moontlik by 'n veearts uit te kry wanneer vergiftiging vermoed word.
Tekens van vergiftiging kan skuim in die bek, braking, oormatige speekselvloei, spiertrillings en bewerasies insluit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’