MOSSELBAAI NUUS - 'n Kat met die naam Kattie is op 25 Januarie met 'n .22 vuurwapen by die Num Num landgoed in Mosselbaai geskiet.
Kattie het die voorval oorleef. Kattie se eienaar, Nerida Lubbe sê sy het die oggend van die voorval om ongeveer 01:35 wakker geword.
"Ek het besef Kattie is besig om te braak." Lubbe sê haar eerste gedagte was dat haar kat moontlik vergif is. "Ek was geskok toe ek besef my kat is regdeur die maag geskiet."
Lubbe het die polisie gekontak waarna sy die Dierebeskermingsvereniging (DBV) se noodnommer gekontak het. Die DBV se Walter Wagenaar het dadelik na die Num Num landgoed gery en vir Kattie 'n pynstiller toegedien.
Lubbe het daarna haar kat na die Mosselbaai Dierehospitaal geneem waar 'n veearts haar behandel het en waar daar bevestig is dat 'n .22 gebruik is om Kattie te skiet.
"Ek is kwaad en onsteld dat iemand binne 'n woongebied 'n troeteldier vir wie ek lief is, seer maak," sê Lubbe.
Sy het intussen 'n saak vir die onwettige afvuur van 'n vuurwapen by die Da Gamaskop-polisiestasie aanhangig gemaak. Nog aanklagte mag moontlik bygevoeg word.
Die koeëlwond is duidelik sigbaar.
Kattie is deur haar maag geskiet.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'