MOSSELBAAI NUUS - Die Suid-Kaap is kapt Deon Botha baie dank verskuldig vir die verskil wat hy in misdaadbekamping gemaak het," sê raadslid Leon van Dyk, portefeuljevoorsitter van gemeenskapsveiligheid.
Kaptein Botha, vir baie bekend as 'n lid van die Da Gamaskop-polisiestasie, het die tuig neergelê.
Een van sy laaste uniform-optredes was 'n besoek aan die JOC en goeie vriend, raadslid Leon van Dyk.
Hier het kapt Botha, nadat hy aanvanklik sy uniformloopbaan in die Spoorwegpolisie afgeskop het, diep spore getrap - eers op Stilbaai, toe Riversdal en Groot-Brakrivier voordat hy by Da Gamaskop-polisiestasie se span aangesluit het.
Verskeie bevelsposte het gevolg, onder meer as bevelvoerder van die misdaadvoorkomingseenheid, waarna hy vir etlike jare die vuurwapenlisensies, dranklisensies en uitvoerpermitte van al die plaaslike polisiestasies hanteer het.
Tot en met sy uittrede einde September het hy as operasionele ondersteuningsbevelvoerder by Da Gamaskop verskeie suksesse in misdaadbekamping gelei.
"Kaptein Botha se gelyke is skaars en die bydrae wat hy in wetstoepassing gemaak het, sal weinig hom kan meedoen. Dit was 'n besondere voorreg om op verskeie terreine met hom saam te werk en by sy kundigheid en ervaring te kon baat. Ek glo Deon se toewyding en ondervinding sal in die jare wat voorlê steeds vir ons dorp op ander terreine tot voordeel strek, hoewel ek hom ook 'n welverdiende blaaskans gun," aldus raadslid Van Dyk.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’