HARTENBOS NUUS - Kansa bied volgende week 'n allerheerlike byeenkoms aan waar almal wat van koffie, kuns en kultuur hou, 'n feestelike kuiertjie sal beleef. Kuns, Koffie en Kultuur of sommer tong in die kies genoem, 'n "mini K,K en K", word op 21 en 22 Maart in Hartenbos in die Walvissaal vanaf 10:00-16:00 aangebied. Toegang is R50 per persoon.
Hierdie fondsinsameling van Kansa, vroeër aangebied as Art from the Heart, trek vanjaar 'n nuwe baadjie aan.
Soos in vorige jare, skenk kunstenaars skilderye wat tydens die geleentheid besigtig kan word.
In plaas van die veiling wat in vorige jare sou plaasvind, word daar tydens Kuns, Koffie en Kultuur 'n stomveiling (silent auction) gedoen, waarna die bod dan toegeslaan sal word aan die einde van die tweedag-uitstalling. Oorspronklike kunswerke, ook van bekende kunstenaars kan op hierdie manier teen winskooppryse opgeraap word.
Tydens die twee dae, sal die room van plaaslike kunstenaars ook deel van die vermaaklikheidspakket vorm. Dit sluit in optredes deur Petronel Baard en Cornelle Carstens in hulle gewilde kabaret, DisNellas. Ander kunstenaars sluit in sangers Antoinette Snyders, sangpaar Clayton en Karin Cupido, Magnus, Melly Dee, Marina Stander, Krisjan, Leanie Jordaan en meer. Gewilde kletsrymers Onblusbaar en Major van Groot-Brakrivier is ook daar. Digter en woordkunstenaar Lluyle Arendse en die gewilde sanger Morgedai Ersamus verteenwoordig die pragdorpie Friemersheim.
Dansgroepe sluit in die Movers and Shakers-buikdansers (belly dancers), asook die Beli-Zimo-dansgroep.
Besoekers kan hulle tydens die KK en K verlustig in goeie koffie en ook 'n verskeidenheid eetgoed en lekkernye wat by stalletjies beskikbaar sal wees. Kyk gerus uit vir melktert, koeksisters, pasteie, pannekoek, kolwyntjies, roosterkoeke, biltong en dies meer. Daar is ook klerasie- en juwelestalletjies, vir diegene wat met die seisoensverandering dalk lus is vir ietsie nuuts in die klerekas.
Kuns, Koffie en Kultuur bied 'n heerlike uitstappie vir die hele gesin met 'n kinderarea wat ook beskikbaar sal wees.
Enige navrae kan gerig word aan adrie@hartenbos-seefront.co.za of 076 042 5104 of Minette van Zyl (082 443 3601).
'Ons bring jou die nuutste Hartenbos, Tuinroete nuus'