MOSSELBAAI NUUS - Vleesbaai gaan gebuk onder kabeldiefstal en lang kragonderbrekings.
Die kragtoevoer na Vleesbaai is uiteindelik op Maandagaand, 19 Junie, herstel ná inwoners glo vir sowat 70 ure sonder krag was weens koperkabels wat geplunder is.
Dit was die vyfde keer dat Vleesbaaiers met die hande in die hare én in die donker sit ná beurtkrag, wat telkens urelange kragonderbrekings tot gevolg het.
Volgens 'n woordvoerder van Eskom, word die koperkabels telkens geplunder, wanneer beurtkrag gedurende die nag van toepassing is.
Die nat toestande weens die kouefronte die afgelope tyd, het die terrein modderig en onbegaanbaar gemaak om die kabels te vervang en die kragtoevoer te herstel.
Mossel Bay Advertiser het navraag gedoen of die kabeldiefstal ondersoek word, nadat inwoners beweer het dat die diefstal en plundering deur mense met binne-kennis gepleeg word. 'n Woordvoerder van Eskom, Kyle Jackson, sê dat Eskom besig is met 'n deeglike ondersoek na die kabeldiefstal en die plundering van infrastruktuur.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’