MOSSELBAAI NUUS - Kameras soortgelyk aan die wat reeds geruime tyd op nasionale paaie gebruik word om voertuie se nommerplate af te neem en op 'n nasionale databasis te stoor, kan moontlik eersdaags in verskeie buurtwagareas in die groter Mosselbaai teen misdaad ingespan word.
Die portefeuljekomitee vir gemeenskapsdienste het op Woensdag, 11 Julie aanbeveel dat die raad tydens hul maandelikse raadsvergadering op die laaste Donderdag van Julie oorweging moet gee aan 'n versoek deur die Mosselbaai-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) dat oorhoofse kameras binne die bedryfsarea van vyf goedgekeurde buurtwagte ontplooi word. 'n Openbare deelnameproses sal gevolg word, sou die raad die voorstel goedkeur, alvorens dit geïmplementeer word.
Dit word voorgestel dat bestaande lamppale en munisipale infrastruktuur gebruik mag word vir die aanbring van die kameras wat bestem is vir die areas waarin die buurtwagte van Da Nova, Tarka, Heiderand, Bo-dorp en Onderdorp funksioneer.
Die inligting en opnames verkry van die kameras sal volgens die voorstelle wat aan die raad gemaak sal word, uitsluitlik gebruik word gemeenskapsveiligheid en wetsstoepassing. Streng toegangsbeheer sal deur die aansoekers - die onderskeie buurtwagte - geïmplementeer word. Die aanwending van munisipale infrastruktuur soos lamppale en die nodige elektrisiteit sal 'n groot stukrag vir die projek wees. Tog sal die munisipaliteit vrywaring teen enige eise en aksies kry wat mag spruit uit die gebruik van die LPR-kameras. Die munisipaliteit behou die reg tot inspeksies om te verseker dat alle voorwaardes vir die bedryf van die kameras nagekom word.
Gedelegeerde magte sal waarskynlik aan die munisipale bestuurder verleen word om aansoeke vir soortgelyke fasiliteite van ander buurtwagte te oorweeg.
St Blaize-wandelroete
Die GPF het ook 'n voorstel vir oorweging aan die raad voorgelê om verskeie verbeteringe aan die St Blaize-wandelroete aan te bring.
Hoewel die voorstelle die gebruik en toerisme-waarde van die roete aansienlik sal verhoog, word aangevoer dat dit ook grootliks sal bydra tot 'n veiliger omgewing en dat dit die GPF in hul dienslewering sal ondersteun.
Enkele van die voorstelle is dat 'n vullishouer by elke kennisgewingsbord op die roete aangebring moet word,
dat 'n chemiese toilet in die omheinde area van Cecil Shephardstraat aangebring sal word, dat 'n onderdakstruktuur vir gebruik deur die buurtwag en GPF in dieselfde omheinde area opgerig sal word, en dat die patrolleerders verantwoordelik sal wees om daagliks die omheinde area oop en toe te sluit. Boonop, word voorgestel, sal die patroleerders toegerus word met vullissakke om die vullishouers se vol sakke te vervang en die vullis, wanneer nodig, uit die area te verwyder.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'