MOSSELBAAI NUUS - Op ‘n reënerige dag in April 2016 was dit die eerste keer dat Hannes van Broekhuizen aan die Hartenbos-parkrun deelgeneem het.
Die volgende Saterdag was sy vrou Nelmarie asook hulle drie woelwaters, RJ (toe vyf jaar oud) en Herman en klein Hannes, ('n driejarige tweeling) daar.
Die ouers het beurte gemaak om deel te neem en na die kinders om te sien, aangesien die kleingoed nog te jonk was om te registreer vir parkrun-deelname op daardie stadium.
Hannes en Nelmarie het gou agtergekom dat die spelery op die plaas en al die opwinding van langs die roete op en af hardloop om almal aan te moedig, help om van die woelwaters se ekstra energie ontslae te raak.
So kon hulle dus Saterdaemiddae vir ‘n rukkie kwaliteittyd as 'n paartjie saam spandeer, terwyl die kleintjies hulle batterye herlaai het. Dit het nie lank geneem voordat die drie rakkers besluit het om ook betrokke te raak as vrywilligers en te help met opruimingswerk na afloop van die parkrun nie. Dit is omtrent ‘n gesig om te aanskou hoe hulle worstel om die plastiektafels, -kegels, strandsambrele ensomeer na die stoorkamer te karwei en natuurlik, mag niemand help nie.
Toe die tweeling vierjarige ouderdom bereik, is die hele spannetjie saam geregistreer om deel te neem aan parkrun. Ouboet RJ het sy tiende parkrun so rukkie gelede voltooi en die tweeling ook onlangs.
Die drie boeties is alte trots op hulle junior sertifikate, geteken deur Bruce Fordyce wat hulle vir hierdie besonderse prestasie ontvang het. Almal wat hulle al in aksie gesien het by die parkrun sal getuig dat dit een van die min kere was wat hulle so stilgestaan het. Dit is seker omdat daar vir hulle gesê is dat hulle in die “koerant gaan wees” as hulle mooi stilstaan en glimlag vir die kamera.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'