MOSSELBAAI NUUS - Die hervatting van die tweede helfte van die jukskeiseisoen 2018-2019 het behoorlik vlamgevat vanweë die goeie belangstelling van gesoute spelers, asook enkele nuwelinge. Dit is juis met die oog op 'n kompakte, indrukwekkende asook veeleisende program in die vooruitsig.
Uiteraard is die seisoen wat voorlê vir die Hartenbosspelers bepaald uitdagend, maar hulle sien met entoesiasme daarna uit.
Dit is die geval omdat die spelers, jonk en oud, dwarsdeur die vakansietyd en ten spyte van die versengende hitte hul jukskei-oefeninge getrou bygewoon het.
Spelers is gevolglik fiks en kon met toewyding aandag gee aan die verskillende fasette van houerspel.
Dit verklaar dus waarom die afgelope ligatoernooi Saterdag, 19 Januarie deur al drie spanne van Hartenbos oorheers is. George (een span); Hartenbos (drie spanne); Mosselbaai (een span) en Riversdal (vier spanne) het op Hartenbos kragte gemeet.
Wedstryde is in twee afdelings, naamlik B en C gespeel.
Verskeie spelers was nie beskikbaar nie vanweë vakansieverpligtinge. Gelukkig kon Hartenbos aanklop by Groot-Brakrivier se sosiale klub.
Tessa Nortier, Pieter le Roux en Sarel du Plessis het ingewillig om te speel. Hul teenwoordigheid in die onderskeie spanne het bygedra tot dié goeie vertonings.
Op Saterdag, 2 Februarie vind die gewilde MP Prinsloo-toernooi op Beaufort-Wes plaas.
Vanweë die droogte en waterskaarste mag die toernooi dalk na George verskuif. Kennis sal later gegee word. Beskikbare spelers kan nog môre, Saterdag 26 Januarie, hul name vir keuring verstrek.
Vanweë die feit dat slegs Hartenbos 'n A-span inskryf, het die span as 'n B1-span deelgeneem en verval die A-afdeling. Die finale uitslae van die afgelope Saterdag se wedstryde is soos volg:
B-afdeling:
Hartenbos B1 (50). Hierdie span het slegs 10 punte op die dag se spel afgestaan. Dit is die gevolg van goeie pennekrag en uitstaande afronding.
Hartenbos B2 (30½), George B (26½), Riversdal B2 (22½), Riversdal B1 (21½).
C-afdeling:
Hartenbos C (68). Die vier veterane met Malie Pienaar in hul gelede het voorwaar uitstaande spel gelewer en het behoorlik stof in die ander spanne se oë geskop. Riversdal C1 (45), Mosselbaai C (39½), Riversdal C2 (27½).
Môre, Saterdag 26 Januarie vind die volgende ligawedstryde op die Hartenbosbane plaas.
Die opening is om 08:00 en aanvang om 08:30. Die kleredrag is soos gewoonlik klubkleure.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'