Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Hulle babbel skoon deurmekaar soos hulle vertel van hulle wedervaringe as uitruilstudente in Duitsland. Onder dié spannetjie Sao Brakkies, soos leerders van Hoërskool Sao Bras hulleself noem, is Davene Anderson, Rhufieka Heunis en Anniël Groenewald wat verlede jaar hulle alma mater trots gemaak het met hulle deelname aan die televisieprogram Die Superskool op DStv-kanaal 147.
Mede-leerder, Courtney Tarentaal en leerders van Hoërskool Punt, Erin Jeffrey, Lara Ekström en Jean Lourens was ook deel van die Freundeskreis Südafrika-uitruilprogram. Ná vier weke in Duitsland, is dié spulletjie oorgehaal om dadelik weer hulle tassies te pak.
Soos een man sê hulle dat hulle nie wou terugkom nie, maar die goeie nuus is dat daar sulke sterk bande met hulle gasfamilies gesmee is, dat die welkommatjies reeds uitgestal is vir die jonges se terugkeer.
Die Kersmarkte het hulle baie beïndruk. "Hulle is baie groot op Krismis. Hulle sal sommer drie dae lank Krismisete hou," verduidelik Rhufieka. Van die goorste kosse voorgesit was die suurkool of sauerkraut, stem almal saam. "Ek moes die suurkoolsap ook drink," Davene se gesig vertrek by die gedagte hieraan.
Anniël het geniet om oor die taal, kultuur en leefstyl te leer. Rhufieka meen dat mense Duitsers as onbeskof kan beskryf, maar sy sê hulle is bloot direk en reguit. "My besoek aan Duitsland het my baie positief gemaak. Dit het 'n rustigheid in my gebring. Die manier hoe hulle leef daar. Elke aand eet hulle as familie saam. Hulle is baie groot op familie. Ek is baie dankbaar ek kon dit beleef."
Courtney Tarentaal se Europese Kersfees as uitruilstudent in Duitsland die pas afgelope vakansie.
Davene het geleer om meer selfstandig te wees. Ook Courtney sê sy het situasies beleef wat sy net moes hanteer op die bes moontlike manier. "Ek moes skool bywoon, soos 'n matriekklas. Hulle was ouer as ek en ek moes voor die klas praat in Engels. Ek is Afrikaans. Ek moes ook alleen treinry en treine ruil. Dit was moeilik omdat min mense Engels kan praat. Maar toe ek op die ou end op die lughawe kom, en ek het dit gemaak, toe voel ek so trots en verlig. Ook omdat ek nie weggeraak het nie." Almal lag lekker vir haar stelling.
Anniël was gelukkig, hy het net een skooldag beleef. Aan vreemde vrae was daar geen tekort nie.
"Hulle het my gevra of ek op 'n olifant skool toe ry," vertel hy. Ander wou weer weet of hulle 'n krokodil op die strand sal kan braai as hulle Suid-Afrika besoek. "Almal was erg oor die diere. Die groot vyf veral," sê Rhufieka. Daar was 'n paar vrae oor apartheid.
"Hulle was baie geïnteresseerd in ons geld. Ek moes 'n paar keer wys teen die lig hoe Mandela op die noot verskyn."
Kyk 'n video hieronder:
Wat hulle die meeste sal mis, is hulle dit eens, is hulle gasfamilies. "Al onse gasfamilies het ons ingeneem as hulle eie," vertel Rhufieka. "Ons het 'n hele drie dae aaneen gehuil voor die terugkeer," bieg Anniël.
Maar terug, dié gaan hulle verseker.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'