MOSSELBAAI NUUS - "'n Leier met visie, 'n man met deursettingsvermoë, 'n harde werker."
So het kollegas na Dirk Kotzé, wat Woensdagaand onbestrede verkies is as die DA-voorsitter vir Mosselbaai se kiesafdeling, verwys.
Dirk self is meer beskeie. Hy noem deelnemende bestuur, oopdeurbeleid, effektiewe tweerigting-kommunikasie as ván die grondstene wat goeie bestuur kenmerk, en sê dít is wat kiesers in die komende jare van sy leierskap kan verwag.
"Ek en Mosselbaai se uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, werk in die munisipale raad baie nou en goed saam.
"Ons is saam 'n formidabele span. Ek neem die leisels oor by 'n strydros wat álles vir die DA en vir die gemeenskap ingesit het, dit is groot skoene om vol te staan, maar ek sien uit na die uitdaging," sê Mosselbaai se uitvoerende onderburgemeester, Dirk Kotzé, van sy nuwe leierskapsposisie in die party.
Die uittredende DA-kiesafdeling-voorsitter, raadsheer Harry Levendal, het die verkiesing van jonger leiers in uitvoerende posisies verwelkom.
Benewens Dirk is 'n gedugte span as leiers verkies, te wete Niklaas Booisen as ondervoorsitter, Venolia Fortuin (sekretaresse), Mark Furness (terourier) en Mervyn Barnard, Lodewyk Coetzee, Anton Dellemijn en Annatjie Janse v Rensburg as addisionele lede. Marulyn Kannemeyer en Erica Meyer is gekoöpteerde lede.
Hierdie naweek staan Dirk boonop op streekvlak as een van twee kandidate wanneer hy hom herkiesbaar stel as voorsitter van die DA Oosstreek se finansiële komitee.
Begrotings
Dirk is een van die rare mense vir wie syfers, begrotings en finansies sin maak, soveel so dat, onder sy leiding, die DA se Oosstreek in die 2016 munisipale verkiesing die bes-befondsde verkiesing kon veg, met begrotingsmodelle wat hy vir elke kiesafdeling opgestel het.
Hy het aangedring dat effektiewe fondswerwing as belangrike maatstaf gehandhaaf word, en het verseker dat die Oosstreek hul regmatige aandeel uit die provinsiale- en federale begrotings kry.
Die resultaat was 'n besondere goeie vertoning vir die party in Mosselbaai en die streek.
Die Oosstreek-voorsitter, Jaco Londt, (middel) het die verkiesing van die kiesafdeling se nuwe bestuur gelei.
Kommunikasie
"Die groot uitdaging gaan wees om te verseker dat Mosselbaai se koukus sterk verenig en grondvlak-aktiviste deeglik betrek sodat effektiewe tweerigting-kommunikasie behoorlik gehandhaaf word.
"Die DA se kiesers mag nie dink raadslede is 'afwesig' nie, daar sal baie hard gewerk word om te verseker dat behoorlike kommunikasie, wat goed bestuur word, is 'n realiteit waaraan die party geken word.
"As kiesafdelingsvoorsitter sal dit my verantwoordelikheid wees om seker te maak dat die plaaslike bestuurspan heg as 'n eenheid saamwerk, dat die suksesse wat die party behaal, ook as die meerderheidsparty in die plaaslike owerheid, deeglik oorgedra word.
"Kiesers moet weet wat die party se waardes en norme is, en wat van die leierskapsgroep verwag kan word," sê Dirk.
Jongmense
Die grootste uitdaging in die aanloop tot die 2019 verkiesing, nie net vir die DA nie, meen Dirk is die onbetrokkenheid van jongmense, nie net by nasionale politiek nie, ook by plaaslike politiek.
Dirk sê die vestiging van 'n sterk, plaaslike jeugtak is prioriteit en hy nooi jongmense om betrokke te raak.
Juis om erkenning te gee aan die suksesse wat jongmense in Mosselbaai bereik, borg hy 'n wisseltrofee om jongmense aan te moedig om gemeenskapsprojekte te ondersteun en 'n verskil te maak.
"Ek het geloof in my span, en glo dit is 'n span wat tot groot dinge tot staat is."
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'