MOSSELBAAI NUUS - Die idioom lui, buig die boompie terwyl hy nog jonk is. Des te beter as 'n deel van die boompie se buigery te doene het met die geskrewe woord en veral die rol daarvan in geestesgesondheid.
Johnwin van Reenen, 'n matriekleerder van Hoërskool Punt, het gedurende die Covid-19-pandemie die waarde van skryf as terapie besef.
"Tydens die ontwrigting wat Covid-19 veroorsaak het, het ek my gedagtes begin neerpen."
Hy skryf nou al 'n jaar lank gedigte en sê dat hy dit baie terapeuties vind. Die katalisator hiervoor was sy ouma se afsterwe.
"Ek het my eerste gedig daarop gebaseer. Om gedigte te skryf help my om my eie pyn te hanteer en te bestuur."
Sy gedig, Alleentyd, het gevolg uit die hartseer rondom sy ouma se dood.
Johnwin wil graag sien dat sy gedigte ander wat deur pyn in hulle lewens gaan, bemagtig en bemoedig. Hy wil ook 'n spreekbuis wees vir weerloses.
Vroeër vanjaar, het die ontwikkelende jong digter saam met Suid-Kaapse rymkletser van formaat, Hakkiesdraad Hartman opgetree. Hy is ook deel van die jeuggroep, Canibeat Productions, bestaande uit talentvolle jeug in Mosselbaai en Groot-Brakrivier.
Hy besluit nog of hy uit skryf 'n lewe sou wou maak, maar intussen weet hy dat hy sy skryfwerk na ander genres wil uitbrei.
Sy groot droom is om teen sy 18de verjaarsdag, 'n digbundel met 18 van sy gedigte vry te stel. Hy word 18 op 21 Februarie 2022.
* Lees Johnwin se Alleentyd op die brieweblad.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'