Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Klein R-Jay Saaiman (7) en sy ouers, Angelique en Ricardo van Groot-Brakrivier, se lewens het ingrypend verander toe hy op 'n Sondagmiddag in Februarie deur 'n rugbybal in die maag getref is.
Hy het van erge pyn gekla en is na die plaaslike hospitaal geneem waar daar ná die ingryping van 'n dokter bevind is dat daar 'n gewas aan sy lewer was.
Kankergewas
Tydens die operasie in Maart, is daar bevind dat die gewas aan sy lewer kankeragtig is en dat dit gebars en uitgebloei het.
FOTOGALERY: R-Jay Saaiman, dapper held
Angelique Trompetter en Ricardo Saaiman, R-Jay se ouers, se lewe het in 'n warboel van chemo-behandelings, gebede, pyn en trane verander.
R-Jay het sedert die operasie reeds drie intensiewe chemo-sessies gehad, wat elke drie weke gedoen word. Die behandelings duur vyf dae, met 'n hersteltydperk van twee weke voor die volgende sessie toegedien word. Angelique gaan in die tye saam met hom na die Rooikruis Hospitaal in die Kaap en bly by hom in die kamer.
R-Jay Saaiman bekyk die pragtige natuurtonele met die helikopterrit, wat deur Reach for a Dream moontlik gemaak is.
Reach for a Dream
Die span van Reach for a Dream reik uit na siek kinders in die hospitaal en het ook vir R-Jay gevra wat hy graag wil hê. Sy droom was 'n helikopter- of vliegtuigrit, 'n Playstation 5 of 'n tablet en ook om na die fliek Fast and Furious te gaan kyk.
Die derde chemo-sessie is verlede week voltooi en R-Jay en sy pa is Maandag, 15 Mei, op 'n helikopter-rit oor Kaapstad geneem wat ook 'n duiseligwekkende 270-grade draai ingesluit het. Hoewel sy pa 'n bietjie senuweeagtig was, het R-Jay met 'n groot glimlag 'n thumbs-up gegee.
As bonus, kon hulle ook 'n Monster Jam-vertoning in Kaapstad bywoon. Ralph Cope, 'n vrywilliger by Reach for a Dream, vertel dit was 'n voorreg vir hulle om R-Jay se drome te bewaarheid. "Klein R-Jay is 'n baie spesiale seun en het deurentyd 'n groot glimlag op sy gesig gehad, alhoewel hy nie lekker gevoel het nie en steeds pyn verduur na die operasie. Ek is betrokke by die organisasie, want dit het 'n ongelooflike groot impak op kwesbare mense se lewens as hul drome waar word. Dit gee mens 'n ander, groter perspektief op die lewe en is sielsverrykend."
Pyn en trane
Sy ma vertel dat die moeilikste ding is om haar kind se pyn te hoor en te beleef, weens die naalde wat met die behandelingsessies en toetse in sy lyfie gedruk word. Met Mossel Bay Advertiser se besoek, speel hy reeds op die nuwe playstation en begroet ons met 'n breë glimlag, hoewel hy kort-kort opspring wanneer hy naar word. R-Jay se vierde en laaste chemo-sessie begin weer op Maandag, 29 Mei.
Angelique vertel dat hulle verras is dat soveel mense vir hulle omgee, na hulle uitreik en help. R-Jay se klasmaats by Laerskool Vorentoe op Groot-Brakrivier het vir hom 'n fondsinsameling gehou, die skool is ook besig met een en help dat R-Jay se skoolwerk op datum bly. Die Kanker SA groep van Groot-Brakrivier gee voortdurend ondersteuning en bederf R-Jay met lekkernye.
'n Groep motorfietsryers het ook kom kuier met fondse en geskenke. Angelique en Ricardo is baie dankbaar vir die ondersteuning en begrip van hul onderskeie werksplekke.
Hulle weet nie wat die toekoms inhou nie, maar vir nou is hulle net dankbaar dat hulle kind leef en dat hy steeds breed glimlag.
VIDEO: Reach for a Dream doen wonderlike werk om kinders wat baie siek is se drome waar te maak.
VIDEO - Ricardo Saaiman en Angelique Trompetter se seun R-Jay is onlangs met lewerkanker gediagnoseer.
Ricardo, R-Jay en Angelique voor die televisie en playstation wat deur Reach for a Dream aan hom geskenk is om die moeilike tye meer verdraagsaam te maak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’