MOSSELBAAI NUUS - Aldrich Kruger is nie ’n onbekende naam in die Mosselbaai-gemeenskap nie.
Mosselbaaiers stap al sedert 2020, toe hy maar 11 jaar oud was, ’n pad saam met hierdie jong man en sy stryd teen papillêre skildklierkanker.
Met gebroke harte vra sy familie nou, ses jaar later, dat die gemeenskap wéér saam met hulle sal loop, want die kanker is terug.
“Vir twee jaar was Aldrich in remissie. Hy kon begin om weer net ’n jongmens te wees. Hy het sy 18de verjaardag gevier. Hy was besig om sy lewe op te bou, en vir die eerste keer in ’n lang tyd het ons begin glo dat die ergste dalk agter ons lê. Ons het asemgehaal. Ons het gedroom. Ons het gehoop. Maar toe, een Sondag, het ons wêreld weer tot stilstand gekom,” sê sy ma, Lisa.
Die realiteit van kanker het hulle in Augustus weer getref. Aldrich het begin sukkel om asem te haal en gevaarlik lae suurstofvlakke gehad, waarna hulle ’n brongoskopie laat doen het. “Die uitslae het gekom, en met die swaarste harte moes ons die woorde hoor wat ons so hard gebid het om nooit weer te hoor nie... ‘Dit is kanker’.”
Hierdie gesin staan by mekaar, maar nou het hulle die krag van ’n gemeenskap ook nodig. “Saam is ons vier - ’n ma, ’n pa (Cornel), ’n seun en ’n dogter (Kaitlyn) - wat probeer om deur iets te stap wat geen gesin ooit behoort te ervaar nie,” sê Lisa.
Sy sê hulle is ongelooflik bevoorreg om in ’n gemeenskap soos Mosselbaai te woon. “Baie van julle ken Aldrich. Julle het hom sien grootword. Julle het sy eerste kankerstryd gevolg. Julle het saam met ons gebid, ons bemoedig en ons deur moeilike dae gedra.
“Nou vra ons weer vir julle: Ons het ’n BackaBuddy-veldtog, ‘Aldrich’s Journey - From Survivor to Fighter Again’, begin om ons te help met die finansiële las wat hierdie nuwe stryd gaan bring. Daar sal weer mediese uitgawes wees; reis, verblyf, kos, suurstof, behandeling, en alles wat daarmee saamgaan. Cornel doen alles wat hy kan om vir ons gesin te voorsien, maar hierdie is ’n stryd wat finansieel net so groot is as wat dit emosioneel is. Ons vra nie dat iemand moet gee wat hulle nie het nie. Elke bydrae, groot of klein, maak ’n verskil.
“Maar ondersteuning hoef nie altyd finansieel te wees nie. Bid asseblief vir Aldrich. Bid vir sy behandeling. Bid vir sy krag. Bid vir Cornel en ons as ouers. Bid vir Kaitlyn, wat probeer om haar eie emosies te dra terwyl sy ons sanity bly.”
Lisa sê dit sal selfs net help om sy storie te deel, of vir hom ’n boodskap te stuur, sodat hy weet hy is nie alleen nie. Doen dit gerus op die Facebook-blad, Aldrich The Strong, wat hulle vir hom gestig het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’