MOSSELBAAI NUUS - Marco van Niekerk (20) het ontlangs sy bestuurslisensie ontvang.
Vir enige jong volwassene is dit nog 'n stap tot onafhanklikheid, maar vir Van Niekerk - wat op tweejarige ouderdom met outisme gediagnoseer is - is dit 'n teken van beduidende groei.
Sy motivering om sy bestuurslisensie te kry was 'n begeerte na onafhanklikheid en meer selfvertroue.
Toe hy gevra is hoekom hy so hard vir sy lisensie gewerk het, het hy gesê: "Sodat ek kan bestuur en na myself omsien."
Ten spyte van die uitdagings het Van Niekerk na elke bestuursles uitgesien.
"Ek het nooit gedink hy sou dit bereik nie, want dis nie maklik nie. Maar Marco leef volgens reëls vandat hy klein was, en reël nommer sewe was nog altyd: 'Moet nooit moed opgee nie'," sê Ann Strauss, Van Niekerk se 'tweede ma'.
Marco van Niekerk
As 'n persoon met outisme sukkel Van Niekerk om te sosialiseer, in raserige ruimtes te wees en ander se emosies te verstaan.
Maar oor die afgelope drie jaar het hy merkwaardig in alle aspekte van sy lewe ontwikkel. Sy kommunikasie-vaardighede en vermoë om instruksies te volg het oneindig verbeter, sê Strauss.
Toe Van Niekerk 18 jaar gelede gediagnoseer is, was outisme steeds wyd misverstaan. "Vandag is ons dankbaar dat die bewustheid daarom gegroei het en dat mense aangemoedig word om te dink voordat hulle oordeel," sê Strauss.
Van Niekerk se grootste ondersteuners is sy pa, Jaco (wat ook 'n persoon met outisme is) en sy ma, Marlene. Jaco leer hom om aan te hou en in homself te glo, en sy ma reël sy terapiesessies en maak seker dat sy medikasie uitgesorteer is.
"Die wêreld sê ek is outisties, maar God sê ek is perfek," sê Marco.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’