MOSSELBAAI NUUS - Om skaakstukke op 'n geruite bord rond te skuif klink én lyk op die oog af maklik, maar om in dié sport uit te blink verg baie harde werk en dis 'n les wat een van Mosselbaai se sterre uitgevind het.
Die 17-jarige Clayton Taute, graad 12 leerder by Hoërskool Sao Bras, beklee tans die 15de posisie op die Suid-Afrikaanse ranglys vir o.20-mans.
"Ek het in graad 5 begin skaak speel nadat 'n vriend die spel vir my geleer het en ek het dit aanvanklik net vir pret gedoen," vertel Taute.
"Nadat ek egter 'n dokumentêr gesien het van die wêreldkampioen, Magnus Carlsen van Noorweë, het dit my gemotiveer en ek het gedurende die grendeltyd die tyd en moeite ingesit en skaak meer intensief begin bestudeer."
Hy het daarna aan kompetisies begin deelneem en het gou opgang gemaak in die Eden-distrik asook in Suid-Afrika.
Sy eerste toernooi na grendeltyd het hy bord 1 gespeel vir Mosselbaai skaakklub se 2de span, in die Eden-liga van 2021 het hy 2½ uit 5 gewen teen die beste spelers in die distrik.
Bord 1 beteken dat jy die sterkste speler in jou klub is in daardie stadium van 'n toernooi en dat jy dan teen ander klubs se voorste spelers gemeet word.
In die 2021 en 2022 Wes-Kaapse Klubbyeenkoms speel hy bord 1 vir die Mosselbaai A-span waarin hy 1/6 gewen het in albei toernooie. "Hierdie was wel nie goeie punte nie, maar ek het dit geneem as motivering en die ondervinding was goud werd," vertel hy.
Oor die afgelope drie jaar verteenwoordig hy Eden ses keer. Hy het ook die unie by die Wes-Kaapse skolebyeenkoms die afgelope drie jaar verteenwoordig. Hy neem ook deel aan die Wes-Kaapse Streekbyeenkoms in 2022 en 2023 en hy was ook verlede jaar in aksie by die Rural Cup, wat by Laerskool Overberg op Caledon gehou is.
By die Wes-Kaapse Skolebyeenkoms behaal hy in 2021 die agtste posisie, verlede jaar was hy tiende en vanjaar negende. By verlede jaar se Eden Ope behaal hy die vyfde plek en by die George Ope was hy die naaswenner.
Op die PACS aanlyn kompetisie wen hy in 2022 die Ope- én Blitz-afdelings.
By die SA Ope in 2022 neem hy deel en wen 4,5 uit 11. Hy wen twee, speel vyf spelle gelykop en verloor vier in die A-afdeling teen die beste spelers in die land.
"In dié toernooi het ek die Olimpiese-speler, die vroue-kandidaatmeester Rebecca Selkirk, geklop in die tweede ronde. My skuiwe in dié ronde was die spel van die toernooi en dr Lyndon Bouah, (Direkteur van Sport en Rekreasie by die Departement van Kultuur en Sport in die Wes-Kaap), het 'n verslag oor my spel geskryf," sê hy. Dr Bouah is ook 'n skrywer en 'n baie goeie skaakspeler met menige prestasies agter sy naam.
In 2022 word Taute as Sportman van die Jaar aangewys by sy skool. Hierdie jaar behaal hy ook die eerste plek in twee van die o.20 Mosselbaai-skaakproewe en 'n eerste plek in altwee o.20 Eden proewe.
Naas sy 15de posisie op die SA ranglys, beklee hy ook die sesde plek in die Eden distrik vir alle ouderdomsgroepe. "My droom is om 'n Meesters titel te verower en die geleentheid te kry om my land te verteelwoordig by internasionale toernooie," het hy gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’