Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Die Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging (SJB) het dit vir 18 skoliere (12 seuns en ses meisies) wat in die natuur belangstel, moontlik gemaak om 'n verreikende opleidingsessie te ervaar.
Die kursus se doel was om die historiese jagkultuur aan die jeug oor te dra asook 'n geleentheid om die begrip "volhoubare benutting" prakties te kon uitleef.
FOTOGALERY: Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging (SJB)
Hulle kon reeds as laerskoolleerders die veldskool oor 'n periode van drie dae asook die skietkliniek oor 'n periode van een dag onder bekwame opleidingsbeamptes deurloop. Hierdie laaste gedeelte van die opleidingskursus bied geleentheid aan elke student om onder mentorskap sy eie springbok te skiet, reg te ontwei, af te slag, uitmekaar te maak en die leerskool van vleisbewerking te kan ervaar.
Kursus
Kursusmateriaal sluit in die aanvanklike beplanning van die jagtog tot by die bewerking van die vleis. Alles word prakties en in die veld aangebied, terwyl kampvuurstories en leierskapsontwikkeling om 'n gesellige vuur, deel van die opleiding uitmaak. Hierdie jaar is die kursus vir die eerste keer op Johan en Tina Jooste se plaas, Wolwekop, in die Noord-Kaap aangebied.
Daar is vir agt dae in die veld in tente gekamp, uit 'n veldkombuis gelewe, brode in 'n grondoond gebak en studente was aktief betrokke by kosmaak en opruim. Die agttien springbokke wat deur die studente geskiet is, is afgeslag en verwerk tot heerlike wildswors.
Die veilige en oordeelkundige hantering van 'n vuurwapen vorm 'n integrale deel van die opleiding. Elke student moes eers kwalifiseer sodat skietvernuf op hoë standaard was voordat hulle toegelaat is tot die jagveld. Met die suksesvolle voltooiing van die kursus kan skoliere geregistreer word as toegewyde jagters.
Bedank instansies betrokke
SJB spreek hul opregte dank uit aan die vele instansies en privaat donateurs wat op 'n gereelde basis bydraes maak om die jeug beter toe te rus om beredeneerde en sinvolle besluite te kan neem. Die blootstelling ontwikkel nie net besluitneming wat natuurlike hulpbronne raak nie, maar ook leierseienskappe wat toekomstige leiers skep.
Kontakbesonderhede
Vir inligting rakende junior opleiding kan die SJB kantoor by Diazstrand gekontak word (044 695 2319) of stuur 'n e-pos aan info@suidkaapjagters.co.za of kontak Fermi Meyer (die SJB-bestuurder verantwoordelik junior opleiding) 072 444 8236.
Die groot trek arriveer op die plaas.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’