Dié hupse 100-jarige en kranige musikant pa van die nimlike Boeremusiek-legende Freddie Rheeder, ook 'n geliefde Mosselbaaier wat onlangs oorlede is, het sowaar kans gesien om op sy groot dag weer 'n paar vrolike note uit die konsertina te kielie.
"My pa het nog altyd graag musiek gemaak, maar nie op dieselfde skaal opgetree as wyle Freddie nie," vertel sy dogter Ansie Theron.
Volgens haar het hy eerder by huispartytjies opgetree, maar baie graag musiek gemaak saam met sy oorlede seun en dié se musikale seuns.
Gebore in Swellendam in 1914, het Andrew later grootgeword en skoolgegaan in die Ro-bertson-omgewing. Hy bekwaam homself as kabinetmaker en werk later in Knysna waar hy in 1935 met Bessie Meyer trou.
In die veertigerjare, vestig die Rheeders hul in Kaapstad waar Andrew passasierswaens vir die Spoorweë bou.
Met sy aftrede in 1978, versit hy bakens na Mosselbaai. Na Bessie se afsterwe, trou hy op 82-jarige ouderdom met Getruida Krause en die twee woon steeds in Santos Haven.
Bo en behalwe musiek, het Andrew vroeër graag gejag en visgevang.
Volgens Ansie is dié pa van drie, oupa van nege kleinkinders, oupagrootjie van 18 agter-kleinkinders en oorgrootjie van agt agter-agterkleinkinders, nog sonder kwale en net soms kort van geheue.
"En daar is waarskynlik nog agter-agterkleinkinders op pad vanjaar," skerts Ansie.
Gedagtig aan dié gesonde aanwas, het die familie vir Andrew 'n uiters gepaste geskenk gegee - 'n pragtige, gedrukte uiteensetting van sy familiestamboom.
Die verjaarsdagkoek, versier met items gedagtig aan een van
Andrew se groot stok-perdjies - musiekmaak.
ARTIKEL EN FOTO'S: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'