TUINROETE NUUS - Jo-Ane van Dyk (23), die Suid-Afrikaanse spiesgooier wat Dinsdag 3 Augustus aan die Olimpiese Spele in Japan deelgeneem het, se visier is reeds op die volgende spele in Frankryk in 2024 gerig.
Sy het vroeg vanoggend (5 Augustus) aan Group Editors gesê sy het nie so goed gedoen soos sy wou nie, maar sy het baie geleer.
Sy keer Sondag 8 Augustus terug na Suid-Afrika en sal die volgende dag direk na Potchefstroom in Noordwes gaan waar sy woon en werk.
Van Dyk kom oorspronklik van Heidelberg in die Suid-Kaap en het haar skoolloopbaan aan Hoërskool Outeniqua in George voltooi. Sy is die Suid-Afrikaanse spiesgooikampioen vir 2021.
Tydens die Olimpiese Spele het sy in die uitdunrondes onder meer 55,31 m, 55,43 m en 57,69 m gegooi. Die afstande wat sy by die Olimpiese Spele gegooi het was haar gemiddelde afstande van die afgelope seisoen.
Volgens Van Dyk was dit ‘n onbeskryflike ervaring en beskou sy dit as ‘n groot voorreg om daar te kon wees. “Gelukkig is ek nog jonk en ek sien uit daarna om vir 2024 te begin voorberei.”
Sy sien ook daarna uit om huis toe te kom en net bietjie weer mens te wees.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'