MOSSELBAAI NUUS - Nadat die saadjie gesaai is in Erfenismaand, September 2021, is die jongste ATKV-tak, 'n eerste in sy soort, op Mosselbaai gestig.
Hierdie ATKV Jeugtak, waarvan die naam nog onderhewig is aan finale goedkeuring, het tydens hulle stigtingsvergadering by die Blue Shed weggespring met 'n dinkskrum oor projekte.
Te oordeel aan van die idees wat na vore gekom het, is die jongklomp vuur en vlam om dinge te laat gebeur.
Tydens die stigtingsvergadering, is daar ook 'n werksessie aangebied onder leiding van uittredende streeksbestuurder Elda Kruger en haar opvolger, Christi Swanepoel.
Swanepoel het die leisels oorgeneem as streeksbestuurder in die Suid- en Oos-Kaap waar sy ondersteuningsdienste aan die ATKV-takke bied.
Kruger, wat bevordering ontvang het binne die ATKV, het gesê dat sy met leedwese veral Mosselbaai en sy mense groet, maar opgewonde is oor die takke in die dorp se werksaamhede.
Tans, beskik Mosselbaai oor drie ATKV-takke wat insluit die nuutgestigte jeugtak, die ATKV-tak Seeuitsig en die ATKV-tak Langsous, wat ook al bekroon is vir hulle werk op kultuurfront.
Swanepoel het by navraag aan die Mossel Bay Advertiser verduidelik dat die nuutgestigte jeugtak, 'n eerste in sy soort is en dat die ATKV besonder opgewonde oor hierdie nuwe wending is.
"Gewoonlik wanneer ons 'n jeugtak stig, is dit beperk tot 'n bepaalde skool en is daar 'n voogonderwyser betrokke wat leiding gee. In hierdie geval, is die tak oop vir alle jeug van alle skole op Mosselbaai.
Die groep jongmense is baie dinamies en daarom het ons dit nie nodig geag om 'n voogonderwyser betrokke te kry nie. Hierdie tak maak waarlik geskiedenis. Ons is opgewonde om te sien hoe hulle gaan vaar sodat ons hierdie selfde model elders kan implementeer," het Swanepoel gesê.
Ethan-John Carstens dien tans as die takvoorsitter met Kaley Sampson as die ondervoorsitter.
Die ander stigterslede is: Ryno Barkhuizen, Irné O Neil, Shanique Gordon, Herman Spies, Mariné Botha, Kayla Pistorius, Cayla Peyper, Alyssa Janse van Rensburg, Lisa-Moné van den Heever, Danna Lombaard en Mienke de Beer.
"Dit is 'n geweldige voorreg om hierdie tak op Mosselbaai te kon stig. Die nuwe ATKV Jeugtak is 'n inklusiewe groep waar ons hoop om 'n ruimte en geleenthede vir al die jeug in Mosselbaai te skep," het Carstens gesê.
Hy nooi alle jeug binne die groter Mosselbaai om by die tak aan te sluit. Vir meer inligting, stuur e-pos na ethanjohncarstens@gmail.com of WhatsApp na 079 113 9301.
Elda Kruger en Christi Swanepoel (beide van die ATKV) tydens 'n werksessie met die nuutgestigte ATKV Jeugtak. Aan die kop van die tafel (in rooi), is die voorsitter, Ethan-Johan Carstens. Die ondervoorsitter, Kaley Sampson was afwesig met die neem van die foto.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'