MOSSELBAAI NUUS - 'n Rolstoel-oprit is by Diaz Primêr vir 'n graad R-seun gebou, om hom in staat te stel om makliker in en uit sy klaskamer te beweeg.
Izaiah Kiewit (7), die oudste van twee kinders, het spina bifida van geboorte af. Die seuntjie is in 'n rolstoel as hy in en uit die skoolhek beweeg. As hy wil rondloop, soos tydens pouses, gebruik hy 'n loopraam.
Spina bifida is 'n geboortedefek wanneer die membrane rondom die rugmurg in 'n ontwikkelende baba nie behoorlik ontwikkel nie.
Die seun het op 3 Oktober by Sedneth Wesso, 'n graad R-opvoeder by Diaz Primêr, se klas aangesluit. Izaiah is die eerste leerder wat Wesso onderrig, wat so 'n gestremdheid het.
Izaiah se ma, Chané Kiewit, en ouma Muriel Kiewit, het by ander skole aansoek gedoen, maar het gevind dat daardie skole nie die regte fasiliteite vir Izaiah het nie.
Sy ma het met Mossel Bay Advertiser gedeel dat wanneer die familie by die skool sou verbykom (voordat hy aangesluit het), het Izaiah altyd gesê dat hy by Diaz wil skoolgaan.
In die klaskamer
As sy onderwyser, was Wesso die meeste bekommerd oor sy veiligheid. Dit kan 'n ernstige mediese probleem word as Izaiah sou val en dalk hoofbeserings opdoen.
Kinders kan soms 'n bietjie te rof met mekaar speel, sonder om dit te besef. Maar, sy sê sy klasmaats het Izaiah dadelik verwelkom.
Izaiah saam met sy maatjie, Nicole. Foto: Gabriélla Siebritz
Sy beskryf die ander kinders as "onbevange" deur die nuweling se teenwoordigheid. Die kinders is altyd versigtig en sag om hom.
Izaiah se vriendin, Nicole Booysen (6) en wat in dieselfde klas is, is vinnig aan sy sy wanneer hy uit sy rolstoel wil beweeg. Sy hou sy hand styf vas en lei hom stadig na die kleurvolle mat in die klaskamer of na sy loopraam.
Wesso sê Nicole het hierdie "moederlike" rol aangeneem sonder om gevra te word. "Sy kyk uit vir hom," sê Wesso, "soos n' klein mamma".
Izaiah hou Nicole se hand as hy rondbeweeg sonder sy rolstoel. Foto: Gabriélla Siebritz
Nie bang nie
Izaiah het ook sy klasmaats ingehaal wat skoolwerk betref in die kort tydjie wat hy by Diaz is.
Izaiah word beskryf as slim en "blitsvinnig". "Hy wil aan alles deelneem. Hy is glad nie bang om dieselfde dinge as die ander kinders te doen nie."
Eenkeer, toe die klas na buite is om te speel, is Izaiah op 'n swaai geplaas. Wesso het sy hand styf vasgehou terwyl hy heen en weer swaai. Terug in die klaskamer, het Izaiah vir haar gesê:
"Wanneer ons weer uitgaan, sal jy nie my hand vashou nie".
Chané het aan die Mossel Bay Advertiser gesê sy het nie verwag dat Izaiah se onderwyser sal so betrokke raak nie. Izaiah dra 'n luier wat gereeld omgeruil moet word - Wesso het dit sonder huiwering op Izaiah se eerste dag in haar klas gedoen.
Toe hy van die skool kom, het sy ma gevra wie sy luier omgeruil het. "My juffrou," het hy geantwoord hy. Chané was verbaas, maar dankbaar vir die hulp.
Inklusiwiteit
Diaz Primêr is die enigste skool op Mosselbaai wat rolstoel-toegang op sy perseel het. Die enigste area daarsonder, is die grondslagfase-ingang, waar Izaiah gereeld in en uit saam met sy eweknieë deurkom.
Die idee was om die skoolomgewing so toeganklik as moontlik vir Izaiah en ander kinders met gestremdhede te maak.
Die rolstoel-oprit wat die skool vir Izaiah gebou het. Die oprit is regvoor sy klaskamer. Foto: Gabriélla Siebritz
Die skool se hoof, Genevieve Muller, sê dat die skool streef daarna om so inklusief as moontlik te wees, soos aangedui deur die leuse, "Waar baanbrekers gebore word."
Izaiah wil 'n brandweerman word wanneer hy groot is. Sy familie is die skool innig dankbaar dat hulle nie net die oprit gebou het nie, maar ook dat hulle dit so vinnig afgehandel het deur dit in minder as twee weke te voltooi.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’