MOSSELBAAI NUUS - Terwyl die ondersteuners van Heidelberg en Evergreens op hul A-spanne se eindstryd fokus, is daar ook vanjaar ’n ongekende belangstelling in die B-spanne se kragmeting.
Barbarians en Progress se ondersteuners sien uit na dié wedstryd op 11 Oktober wat baie hoogtepunte kan oplewer. Hierdie spanne het in 2018 laas in ’n eindstryd kragte gemeet, en Progress was aan die wenkant.
Gaan dit vanjaar weer die geval wees, of gaan die Barbarians hulle ’n ding of twee wys?
Met hul naelskraapnederlaag teen Heidelberg in verlede jaar se eindstryd waarskynlik nog vars is hul geheue, sal Babaas beslis die bordjies wil verhang.
In die aanloop tot die 2025-eindstryd het hulle groot respek afgedwing in die groter SWD en staan hulle ’n goeie kans om met eer uit die stryd te tree. Met hul aanvallende spel het hulle menige spanne gesink.
Babaas se span bestaan uit jeug en ervaring, en is as ’n hegte eenheid saamgesnoer - hul suksesse op die rugbyveld was ’n bewys daarvan.
Met veterane in hul agterlyn soos Macdelin Saayman (veelsydige agterlynspeler) en Curshwon Mono (vleuel) het hulle goeie spelbrekers. Saam met hierdie twee vorm Curtley Christoffels (senter), Nigel Prins en Lando Olckers (skakelpaar) die kern van die agterlyn. Voorlangs gee nóg twee veterane, Tino Adonis (slot/flank) en Theo Kannemeyer (stut) die pas vir die jonger manne aan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’