MOSSELBAAI NUUS - Inwoners van Ruiterbos en die Leeukloof-omgewing moes sedert vroeg Oktober saamleef met 'n onhoudbare stank nadat wat blyk om 'n hoeveelheid diere-afval te gewees het glo onwettig in die omgewing gesort is.
Volgens inwoners, is die afval in houers op 8 Oktober enkele meters vanaf 'n openbare pad gestort. 'n Vrou in die omgewing het aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat daar nagenoeg 30 houers met die afval in, gestort is.
Vanweë die helling waarteen dit gestort is, was inwoners uiters bekommerd dat van die afval in die river sou beland en op dié manier die water sou besmet.
"Die bosboustasie is reg oorkant die plek waar als gestort is. Kinders en honde loop daar. Wat as hulle 'n kiem daar optel, siek word en die kieme verder versprei?" het nog 'n bekommerde inwoner gesê.
Inwoners, wat verkies om anoniem te bly uit vrees vir viktimisering, het aan die Advertiser gesê dat hulle bewus is van wie vir die onwettige storting verantwoordelik is.
Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit het by navraag aan die Advertiser gesê dat hulle reeds op 12 Oktober 'n telefoniese klagte van 'n inwoner van Leeukloof naby Ruiterbos ontvang het betreffende die onwettige storting van afvalmateriaal wat 'n oorlas veroorsaak.
Volgens Marillia Veldkornet, 'n woordvoerder vir die distriksmunisipaliteit, is 'n terreininspeksie op dieselfde dag op die perseel uitgevoer. "Daar is vasgestel dat dit hoofsaaklik nat vismeel en beenmeel is wat in 1000 liter houers daar gestort is. Sommige houers was leeg en beskadig en die inhoud het op die grond beland. Dit is uit die aard van die saak baie onwelriekend."
Veldkornet het ook gesê dat 'n verdere ondersoek in 'n latere stadium bepaal het dat die betrokke gestorte materiaal vanaf 'n fabriek wat sowat 'n jaar gelede gesluit is, afkomstig is. "Die persone wat die materiaal gestort het, het 'n swaar voertuig by 'n vervoermaatskappy gehuur en die materiaal naby Ruiterbos gestort."
Volgens Veldkornet het die persoon wat vir die storting verantwoordelik was beweer dat hy die materiaal as bemesting op sy landerye wou gebruik. Hy het voorts beweer dat die swaar voertuig op 'n ander grondeienaar se perseel vasgeval het toe hy daarmee wou draai.
"Die materiaal is toe summier daar afgegooi met die doel om dit later weer op te laai."
'n Opvolginspeksie is op 26 Oktober deur omgewingsgesondheidsbeamptes van Garden Route-distriksmunisipaliteit se Mosselbaai sub-kantoor uitgevoer. Gedurende die inspeksie is van die houers geskuif en sommige verwyder. Die persoon verantwoordelik vir die storting het te kenne gegee dat die materiaal teen die einde van die week verwyder sal wees.
'n Sperdatum is op 30 Oktober aan die persoon gestel waarna die materiaal verwyder moet wees en die terrein netjies gelaat moet word, by gebreke waarvan regstappe ingestel sal word.
'n Opvolginspeksie is na die verstryking van die sperdatum op die perseel uitgevoer om vas te stel of aan alle vereistes voldoen is.
Een van die inwoners wat aanvanklik die kwessies onder die Advertiser se aandag gebring het, het Woensdag by navraag gesê dat die houers en hul inhoud wel verwyder is. "Ons gaan egter nog 'n tyd met die stank moet saamleef."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'