MOSSELBAAI NUUS - Inwoners van Hannes Pienaarstraat in Bayview sê hulle word geteister deur bosluise weens lang gras wat nie in dié gebied gesny word nie.
Die eiendom waarna verwys word, behoort aan Transnet. Een van die inwoners, Eileen van Zyl, sê hulle het al verskeie kere bosluise in hulle erf gekry.
"Ons het ook al op ons kinders en op ons diere bosluise gekry." Sy sê sy het met 'n plaaslike veaarts oor die probleem gesels.
"Die veearts het gesê al behandel ons ons erf, is die lang gras in die omgewing 'n broeiplek vir muise en ander diere wat ook bosluise dra." Die gebied is naby die Bayview treinstasie.
"Sedert die kontrakteurs, wat gewoonlik die onderhoud gedoen het se kontrak beëindig is, sukkel ons met 'n bosluisprobleem en niemand onderhou die gebied nie."
Die Mossel Bay Advertiser het 'n navraag aan Transnet gerig, maar het nog geen terugvoer gehad met die ter perse gaan nie.
Die probleem is ook onder die Mosselbaai-munisipaliteit se aandag gebring. Die munisipaliteit sê in 'n verklaring hulle neem kennis van die bekommernis.
"Die gebied val onder Transnet en daarom kan die munisipaliteit nie dienste lewer nie. "Voorheen in sulke gevalle het die munisipaliteit onderneem om met Transnet te korrespondeer oor kwessies wat deur die gemeenskap geopper is, maar die munisipaliteit kan nie dienslewering waarborg nie."
Konstruksiewerk in Bayview met die Louis Fourieweg-opgraderingsprojek, veroorsaak dat die spoorlyn nie in gebruik is nie, wat tans dienslewering in die gebied kan beïnvloed, sê die munisipaliteit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’