MOSSELBAAI NUUS - Inwoners van die gebied naby Ruiterbos sê hulle is al raadop oor kwessies met die toestand van twee paaie in dié omgewing.
Een hiervan is afdelingspad 1630 en die ander die ondergeskikte pad 6824, sê een inwoner, Ali Coetzee, wat al sowat 20 jaar in die gebied bly.
Coetzee verduidelik die een pad, die DR1630, loop van Klein-Brakrivier verby Botlierskop en sluit weer by die R328 naby die Eight Bells Hotel aan. Die ander, die 6824, loop weer uit daardie pad en gaan deur Leeukloof en sluit by Ruiterbos Village aan.
Coetzee het korrespondensie van so ver terug as 2021 tussen haar en die amptenare van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit met Mossel Bay Advertiser gedeel.
Daar was al verskeie kwessies oor die jare, insluitende 'n versoek vir padrelings by haarnaalddraaie, asook die algemene toestand van die paaie en die behoefte aan gruis vir die padoppervlak. Sy sê daar was ook al twee ernstige ongelukke, en in hierdie week nóg een wat ook ernstig kon wees.
Coetzee sê daar is hier en daar al werk gedoen, maar nie genoegsaam nie; die gebrek aan kommunikasie is ook vir haar 'n groot frustrasie.
Die departement van infrastruktuur sê hy is nie direk in hierdie verband gekontak nie, en is eers in Maart bewusgemaak van die versoek vir 'n ondersoek na bykomende veiligheidsmaatreëls ná 'n voorval in Maart.
"'n Versoek is by die hoofdirektoraat van padontwerp ingedien om die gepastheid van addisionele tekens en padrelings te ondersoek. Dit sal ingestel word indien geregverdig. Die distrikspadingenieur sal in dié week nog die klaer kontak.
"Padgebruikers word herinner om alle paaie verantwoordelik te gebruik, veral ongeplaveide padnetwerke wat vatbaar is vir verandering weens die nie-permanente padoppervlakeienskappe," sê die woordvoerder vir dié departement, Jandré Bakker.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’