Video
TUINROETE DISTRIKSNUUS EN VIDEO - Gesondheidspanne in Hessequa en die groter Mosselbaai sit skouer aan die wiel om te verseker dat soveel moontlik mense ingeënt word teen Covid-19.
"Ongeveer 69% van persone bo die ouderdom van 60 jaar in die streek het geregistreer om die inenting te ontvang. Teen 2 Julie is 3 740 mense al ingeënt; 70% van die mense wat dit wil ontvang," het Nadia Ferreira, woordvoerder van die departement gesondheid in die Tuinroete en Sentraal Karoo-distrik verduidelik.
Die sub-distrik het 919 meer inentings gegee in die week 28 Junie tot 2 Julie as die vorige week. 'n Groter hoeveelheid inentings is aan die Tuinroete-distrik gegee om sub-distrikte met hulle inentingsveldtogte te ondersteun.
Gemeenskapsgesondheidswerkers, asook ander rolspelers help met registrasies. Hessequa-munisiplaiteit het hulp verleen deur biblioteke, asook Thusong-sentrums oop te hou om met registrasies te help.
Persone wat nie vooraf kan registreer nie, kan ook by inentingspersele registreer. Persone wat kan, word aangemoedig om vooraf te registreer om die proses so vinnig moontlik by inentingspersele te maak.
"Registrasie van inwoners van landelike gebiede bly 'n uitdaging," het die mediese bestuurder, dr Gideon van Tonder gesê.
Die personeel werk lang ure om die inentingsveldtog ‘n sukses te maak.
“Ek wil my opregte dank teenoor elke personeellid van Hessequa uitspreek vir hul harde werk en toewyding. Hul diens aan ons gemeenskap is prysenswaardig – in besonder tydens hierdie uitdagende pandemie. Hul hantering om die vaksien program te hardloop, bykomend tot hul gewone dienste en die hantering van die Covid-19-gevalle is werklik besonders,” het van Tonder gesê.
LEES: Personeel paraat met inentings
Kyk 'n video hieronder:
Ferreira berig ook dat die inenting in die Mosselbaai sub-distrik vlot. Hierdie week was daar ses inentingspersele, waarvan twee mobiele uitreike is.
"Mobiele uitreike soos hierdie wat reeds begin het in Friemersheim, Rheebok, Brandwag en Hartenbos, het ten doel om mense in kleiner gemeenskappe ook die geleentheid te bied om hul inentings te kry. Uitreikspanne sal elke week roteer en daar waar hulle nie die eerste keer almal kon inent op 'n spesifieke dag nie, afsprake maak om weer terug te kom. Inentingspersele werk op afspraak- en instapgrondslag, waar uitreik-inentingsdienste net op 'n instapgrondslag werk."
Registrasies word ook by inentingspersele gedoen. Afhangend van die aantal entstowwe op die dag beskikbaar, sal registrasie en inentings van persone bo 60 jaar met dieselfde besoek geskied.
Persone wat tuisgebonde is as gevolg van siekte of gestremdheid en nie self na inentingspersele toe kan gaan nie, word tuis besoek waar moontlik om hul inentings te kry.
"Alhoewel registrasie vir persone 50 jaar en ouer oopgemaak het en afsprake vir hulle gemaak word deur die EVDS-stelsel, wil ons net die 60-jariges en ouer gerus stel dat hulle steeds voorkeur sal geniet. Ons bied wel inentings vir persone 50 jaar en ouer op afspraak, maar instapkliënte in die 50 – 59 groep sal ongelukkig eers moet wag," sê die sub-distrik mediese bestuurder, dr Jaco Botma.
Terugvoering van inwoners
Stilbaai
Zailene Ruiters.Voedseldiens Jagersbosch: "Die werk het ons geregistreer en dus hoef ons dit nie self te gedoen het nie. Ek het nie die tweede SMS gekry nie, maar die werk het alles gereël en ons is baie goed gehelp sonder probleme. Ons het ons inspuitings in Mosselbaai gekry en die werk het ons daarheen geneem.”
Zailene Ruiters
Tienie van Schalkwyk: "Ek het self sonder enige probleme geregistreer. Ek het nog nie my tweede SMS gekry nie, maar ek het op Vrydag, 2 Julie, sommer na die Stilbaai-gemeenskapsentrum gekom. Die mense hier is baie vriendelik en behulpsaam."
Tienie van Schalkwyk
Johan Victor: Ek het self op 19 April geregistreer en onmiddellik my eerste SMS gekry. Toe ek hoor hulle is in Stilbaai begin Junie, het ek die nasionale hotline gebel. Die dame het gesê ek moet wag vir die tweeds SMS, anders moet ek 'n kans waag en maar in die ry gaan inval. Die oggend 06:50 was ek daar en is toe nommer 98 in die ry. Teen 09:30 was daar 66 mense wat 'n tweede SMS gekry het en daar was net 100 entstowwe. Terug huis toe. Ek het hulle 'n week kans gegee en toe bel ek die provinsiale hotline. Presies dieselfde antwoord. My tweede SMS boek my toe vir 23 Junie in Riversdal. Toe ek daar vra, 'hoekom Riversdal?' was die antwoord dat amper almal vir daardie dag van Stilbaai af kom. Hulle was egter baie professioneel, hulpvaardig en vriendelik.”
Johan Victor
Heidelberg
Piet Olivier: "Ek het my via die departement van gesondheid se webtuiste geregistreer. Ek het my bespreking net weer vooraf met die plaaslike kliniek bevestig. Ek het met my eie vervoer tot by die saal gekom. Ek het geen probleme met die prosedure by die saal ondervind nie."
Piet Olivier
Nicoleen Davids: "Die kliniekbestuurder, suster Bibi Gordon het my geregistreer. Ek het ook net weer vooraf met die kliniek my afspraak bevestig. Ek bly nie ver van die saal af nie en het sommer gestap. Die diens was uitstekend."
Nicoleen Davids
Riversdal
Maurine en Coenie Schlebush: "Ons het self geregistreer deur ‘n sms te stuur. Ons het op 1 Junie geregistreer en het die aand 'n sms ontvang om Vrydag, 2 Julie, daar te wees. Vandat jy instap is dit vinnig en doeltreffend. Als loop seepglad. Ons het met ons eie vervoer gekom. Die hele proses is regtig baie vinnig en die naald maak glad nie seer nie. Binne 30 minute is jy klaar en kan weer huis toe."
Maurine Schlebush
Coenie Schlebush
Manie September: "Ek is 58 jaar oud. Ek het tot hier gestap vir die inenting. ‘n Man met die naam Elias het my gehelp om per SMS te registreer. Dit is my eerste inspuiting. Almal wat vandag gehelp is, moet weer op 13 Augustus weer kom vir die tweede inspuiting. Ek weet van baie mense wat moet kom vir inenting, maar my boetie is swak en sieklik. Ek wou so graag gehad het hy moes ook hier wees. Die susters is baie behulpsaam en vriendelik en alles beweeg net vlot. Ek wil hê die mense moet weet hierdie siekte is baie ernstig, dit is nie ‘n grap nie. Eerder voorbereid as onvoorbereid. Die rye is nie so lank nie en die wag ook nie. Dit is soos bloedskenk, maar net vinniger."
Manie September
Mosselbaai, Alma-kliniek
Maureen Wiskus (68) en Frik (86) – instapkliënte: "Dit gaan baie vlot en ons is baie bly oor ons besluit. Ons wil almal bo 60 aanmoedig om te kom."
Wolwedans-gemeenskapsaal
Charles Hendricks (De Aar): "As jy eers familie begin verloor, dink jy anders oor die saak van inenting. Ek was eers negatief, maar ek dink nou dis 'n goeie ding, want jy stel ander in gevaar as jy dit nie doen nie."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'