SUID-KAAP NUUS - Voorbereidings is in plek vir die eerste Tuinroete Avontuurtoerisme Indaba en Ekspo wat plaasvind op 26 en 27 Oktober 2018 by Wildernis Hotel en op die Kaart van Afrika.
“Die doel met die Indaba en Ekspo is om die Tuinroete as die mees gesogte avontuurtoerisme-bestemming in die wêreld te vestig,” sê Alewijn Dippenaar van Thousand Sensations wat die tweedag-geleentheid in samewerking met Duke Air en Interface Goji PR & Events aanbied.
Volgens Dippenaar is daar tans meer as 100 onderskeibare avontuuraktiwiteite wat tussen Riversdal en Tsitsikamma en Prins Albert aangebied word. “Avontuurtoerisme is gebaseer op aktiwiteite op land, in die lug, in die water en saam met diere. Sommige toeriste soek adrenalienbelaaide belewenisse, terwyl ander minder aktiewe deelname verkies.
“Die Tuinroete se verstommende verskeidenheid aktiwiteite bied hope geleenthede vir albei groepe om die asemrowende natuurskoon van die Tuinroete ten beste te ervaar.”
Indaba
Vrydag 26 Oktober 09:00 - 13:00 by Wildernis Hotel; 14:00 – 20:00: Binnehuise uitstalling by Wildernis Hotel.
Die Indaba, met die tema “Die toekoms van Avontuurtoerisme in die Tuinroete” sal onder meer fokus op samewerking tussen grondeienaars en instansies wat avontuurtoerisme aanbied; die sosio-ekonomiese bydrae wat avontuurtoerisme tot die gebied maak; die waarde van moderne tegnologie en sosiale media in avontuurtoerisme; die nasionale en internasionale toerismetendense en markte; en uitdagings mbt veiligheid van avontuurtoerisme.
Interaktiewe buitelug-uitstalling en aktiwiteite
Saterdag 27 Oktober: 08:00 – 18:00 by Woodifields oorkant die Nelson Mandela Universiteit, ook bekend as die wêreldbekende Map of Africa in Wildernis.
‘n Wye verskeidenheid avontuurtoerisme-produkte word uitgestal en ‘n verskeidenheid aktiwiteite waaraan die publiek kan deelneem, word aangebied. Eet- en drinkgoed sal heeldag lank beskikbaar wees. Daar is kampeerplek op die Map of Africa vir die wat die naweek daar wil deurbring.
Waar: Woodifields Bewarea op die Map of Africa, waarvan die ingang regoor die ingang na die Nelson Mandela Universiteit se kampus op Saasveld is.
Toegang vir publiek:
- Vrydag: Indaba R250 per persoon, sluit middagete in;
- Binnehuise uitstalling: Toegang gratis
- Saterdag: R80 (volw), R20 (kinders bo 12), gratis (jonger as 12)
Kontak Alewijn Dippenaar by 082 457 5675 of dyndev@mweb.co.za en Mimi Finestone by 084 583 3144 of mimi@gojipr.net
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'