GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Die Groot-Brakrivier Dorp Buurtwag het gisteraand die polisie op Groot-Brakrivier asook die Suiderkruis Sekuriteit bygestaan toe daar by ‘n woning op Suiderkruis ingebreek is.
Die verdagte/s het toegang tot die huis in Linxstraat verkry deur die agterdeur oop te breek. Hulle het daarna gevlug en is steeds op vryevoet.
Die buurtwag het onlangs met die hulp van skenkings tweerigting radios ontvang en het die afgelope week met die hulp van die radio-kommunikasie, ‘n dief wat ‘n fiets gesteel het in die vleiland by Langstraat vasgetrek.
Die buurtwag het die verdagte op die fiets opgemerk en toe met behulp van die tweerigting radios met mekaar gekommunikeer terwyl hulle die verdagte uit verskillende rigtings agterna gesit het.
Die verdagte is intussen in hegtenis geneem en is minderjarig. Sy identiteit kan dus nie bekend gemaak word nie.
Die polisie het bevestig dat die minderjarige ‘n misdaadrekord het en dat daar uitstaande lasbriewe op sy naam uitgereik is. Die verdagte bly in aanhouding en sal eersdaags in die hof verskyn.
'Ons bring jou die nuutste Groot-Brakrivier, Tuinroete nuus'