TUINROETE NUUS - "Ons vermoed 'n sindikaat is by die inbrake betrokke. Die gebied word reeds etlike maande geteiken en daar is gereeld huisbrake. Ons is moeg vir misdaad." Só sê 'n lid van die Glentana-buurtwag wat anoniem wil bly uit vrees vir viktimisering nadat 'n vermeende rower verlede naweek in die been geskiet is.
Groot-Brakrivier-polisiestasie se woordvoerder, sers Laurianne Botha bevestig dat die kusgebied vanaf Glentana na Hersham onder huisbrake deurloop.
Die vermeende rower is op Saterdag, 15 Junie tydens 'n stoeigeveg met 'n buurtwaglid in die been gewond. Hy bly onder polisiebewaking in die George provinsiale hospitaal. Die verdagte is na wat verneem word van Mosambiek afkomstig.
Botha sê lede van die Glentana-buurtwag het op die betrokke aand op inligting gereageer oor drie verdagtes wat tussen bosse langs die N2 op Groot-Brakrivier wegkruip.
"By nadere ondersoek het die buurtwaglede op swartsakke vol vermoedelik gesteelde eiendom afgekom. Die buurtwaglid het die verdagtes genader waarna een van hulle, 'n man in sy 30's, op die buurtwaglid afgestorm en sy vuurwapen probeer gryp het. 'n Gestoei het uitgebreek en die vermeende rower is in die been geskiet. Die ander twee verdagtes het weggehardloop en is steeds op vrye voet," sê Botha.
Die polisie ondersoek 'n saak van poging tot roof omdat die verdagte die buurtwaglid se vuurwapen probeer gryp het. Plaaslike buurtwagte in samewerking met die polisie en Suiderkruis Sekuriteit patrolleer die gebied daagliks. Tydens Saterdag se voorval het die buurtwag versterkings ingeroep waarna ander buurtwaglede ook na die toneel is.
Die polisie op Groot Brak is ook volgens die buurtwag dadelik van die situasie in kennis gestel "maar weens die huidige gebrek aan personeel kon hulle nie onmiddelik hulp stuur nie". Polisiewoordvoerder kapt Malcolm Pojie kon nie op die bewering kommentaar lewer nie aangesien "dit op 'n nasionale vlak lê". Polisielede van Mosselbaai is wel na die toneel ontplooi. Die verdagte sal wanneer hy ontslaan word in die Mosselbaai-landdroshof verskyn.
Lees 'n verwante artikel hier: Vermeende rower in been gewond
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'