MOSSELBAAI NUUS - Danabaai was weer die afgelope naweek die teiken van opportunistiese inbrekers.
By ten minste twee huise in P. Grandiceps het 'n inbreker met sy buit weggekom, en berigte van inbrake in Nerinaweg en 'n poging tot inbraak in Proteaweg is ook aangemeld.
By een woning in P. Grandiceps het die booswigte met 'n groot aantal gereedskap weggekom, terwyl 'n selfoon, skoolsak en 'n Laerskool Hartenbos skoolbaadjie by die ander huis gebuit is.
Beide hierdie gevalle het omstreeks 03:30 plaasgevind.
In Afrikanerstraat is op 22 Februarie 'n swart en silwer Acer-skootrekenaar en Nokia Lumia-selfoon gesteel. Die voorval by Nerinaweg het om ongeveer 05:00 plaasgevind.
Die KwaNonqaba-polisie vra inwoners om baie noulettend op hul eie en hul woning se veiligheid te wees.
Dit is belangrik om voertuie, selfs as dit binne motorhuise geparkeer is, te sluit en die alarms te aktiveer. Alarmstelsels van woonhuise moet ook sensors in motorhuise insluit.
"Dit is belangrik om nie waardevolle items soos selfone binne sig of binne bereik van oop vensters te laat nie, en inwoners moet, selfs wanneer hulle tuis is, veiligheidsdeure gebruik om hulself te beveilig."
Inwoners word aangemoedig om in te skakel by hul buurtwag sodat inligting oor voorvalle vinnig opgevolg kan word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'