MOSSELBAAI NUUS - 'n Palmboom wat volgens oorlewering deur die befaamde Harry Giddey geplant is, het helaas onlangs aan sy einde gekom toe dit onseremonieel afgekap is.
Een van 'n paar palms wat Giddey geplant het op wat toe na bewering munisipale grond was, het meer as 60 jaar 'n leeftyd en teenwoordigheid in die Santos-omgewing gehad.
Vir baie mense was dit 'n gewilde baken in die omgewing gewees.
Giddey het as natuurkenner en -liefhebber diep spore in die gemeenskap gelaat toe hy onder meer die ou Victoriaanse park in Marshstraat vanaf die 1930's onder hande geneem het. Boonop het hy na bewering uit sy eie sak betaal vir baie van die sandsteenwerk en klippaaie en brûe wat vandag nog gesien word. In 1969 is die park na Harry Giddey vernoem.
Bewaringskundiges het daarom met groot ongelukkigheid reageer op die nuus dat een van die sogenaamde Giddey-palms afgemaak is.
Mosselbaai-munisipaliteit het bevestig dat die grond waarop die palm gegroei het, nie aan die plaaslike owerheid behoort nie en dat die munisipaliteit nie toestemming verleen het vir die boom se verwydering nie.
Dit is nie seker of die tweelingpalm op dieselfde terrein ook verwyder gaan word, of wat die rede vir die verwydering mag wees nie.
Giddey se passie vir die omgewing se sandsteenwerk het heelwat bewaringswaardige klipmuurtjies, trappe en brûe tot gevolg gehad.
Giddey was bekend daarvoor dat hy die klipmesselaars erkenning gegee het. Op van die bouwerk is steeds die name en datums van die oorspronklike bouers, hoofsaaklik vanuit die Tarka-area, plek-plek sigbaar.
Die eienaar van die eiendom, dr Dave McNally, wat 'n tandarts in Plettenbergbaai is, het die boom se afmaak aan die Mossel Bay Advertiser verduidelik: "Dit was 'n mooi ou palmboom en ons was nie geneë om dit af te kap nie. Maar 12 jaar gelede, toe ons die eiendom gekoop het, was daar 'n kraak in 'n ou klipmuur wat deur die palmboom se wortels veroorsaak is.
"Oor die jare het ons gesien hoe die boom en ook die kraak groter word. As die muur sou omval, sal dit 'n probleem wees. Dit is 'n lang muur en die palmboom sal saam met die muur tuimel. Ons moes kies tussen die boom of die muur.
"Die muur, wat ook 'n Harry Giddey-skepping is, is baie spesiaal gebou, ek glo deur Italiaanse krygsgevangenes. Dis wat ek vertel is."
Dokter McNally het gesê dat gif op die boomstomp gegooi sal word om te verseker dat die wortels doodgaan.
Hierdie palm word afgemaak. Vrese is uitgespreek oor die veilige gebruik van die steierwerk.
Die palmboom wat destyds deur Harry Giddey geplant is.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'