MOSSELBAAI NUUS - Planne om 'n nuwe biblioteek in Brandwag op te rig, is vir eers op die langebaan geplaas, nadat die oordrag van die grond aan die Mosselbaai-munisipaliteit gestuit is.
Die Wes-Kaapse leier van Icosa en plaaslike raadslid, Dawid Kamfer het dié voorgenome oordrag bevraagteken. Volgens Kamfer, was die openbare deelnameproses, onder meer, onvoldoende.
"Almal weet die grondkwessie is groot op die huidige agenda. Ek het begin vrae vra en agtergekom iets is nie reg nie, want hoe dra jy sommer grond wat aan 'n gemeenskap behoort net so oor, sonder die regte publieke deelname," meen Kamfer. Kamfer sê dat die antwoorde wat hy op sy vrae gekry het hom nie bevredig het nie en daarom het hy regsadvies oor die kwessie ingewin. "Icosa is ook in besit van meer as 100 handtekeninge en 'n stemnota waar daar duidelik gesê word, dat daar net 35 mense in die openbare vergadering hieroor was." By navraag het die Mosselbaai-munisipaliteit gesê dat die aanbeveling aan die raad was dat magtiging verleen word vir die oordra van Erf 170, Brandwacht aan die munisipaliteit. Die oordrag sou op die munisipaliteit se koste gedoen word met die oog daarop om 'n openbare biblioteek vir die gemeenskap op die stuk grond te vestig. Die biblioteekdiens sou deur die Wes-Kaapse provinsiale regering voorsien word, hoewel die munisipaliteit die opgradering, onderhoud en instandhouding van die fasiliteit sou befonds uit die jaarlikse begroting van die direktoraat gemeenskapsdienste.
Volgens die munisipaliteit, is gemeenskapsinsette onder meer tydens 'n gemeenskapsvergadering van die lede van die Brandwacht Gemeenskapseienaarsvereniging (Communal Property Association - CPA) bekom. Dié vergadering het op 17 September 2019 plaasgevind, nadat die meerderheid van die gemeenskapslede wat by dié vergadering was, ten gunste daarvan gestem het. Daarna het 'n openbare deelnameproses gevolg.
"Op versoek van die burgemeester het die item egter nie voor die raad gedien tydens die maandelikse raadsvergadering van 27 Februarie nie en dit is na die administrasie terugverwys," berig Nickey le Roux, munisipale woordvoerder.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'