MOSSELBAAI NUUS - 'n Klein groepie Icosa-ondersteuners op Groot-Brakrivier het die afgelope week antwoorde by die munisipaliteit oor 'n aantal gemeenskapskwessies by die Mosselbaai Munisipaliteit gesoek.
Die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee, het laat Vrydagmiddag, 4 Augustus 'n petisie van die Icosa-ondersteuners ontvang waarin aangedring word dat die munisipaliteit binne sewe dae antwoorde op die probleme wat hulle gelug het, sal bied. Sou die munisipaliteit versuim, het Icosa gesê hulle sal "die gemeenskap mobiliseer om tot aksie oor te gaan."
Van die kwessies waaroor uitsluitsel en/of optrede verlang word, is die wonings in Wesso-, Nantes- en Murraystrate wat skynbaar dringende herstelwerk benodig.
Icosa eis ook dat die "Souwesia-karavaanpark summier herstel moet word, in geheel", en vra ook uitsluitsel oor die herstel van die sportgronde.
Hierbenewens word aangedring op terugvoer oor huise in die Wolwedanswoonbuurt wat sonder plafonne verskaf is en ander gebreke toon, en waarvan sommige in 'n onlangse haelbui beskadig is. Uitsluitsel oor die munisipale deernisbeleid is ook vereis.
'n Groepie Icosa-ondersteuners het op Vrydag 'n petisie aan die munisipale bestuurder oorhandig waarin hulle antwoorde op 'n paar gemeenskapskwessies vereis.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'