MOSSELBAAI NUUS - In die lig van President Cyril Ramaphosa se onlangse aankondiging dat voortgegaan sal word met stappe om grond sonder vergoeding te onteien, is Icosa voornemens om te vra dat hul regsverteenwoordigers die howe moet nader om Mosselbaai-munisipaleit te dwing om stappe te staak om grond op langtermynkontrakte aan privaat instansies te verhuur.
Raadslid Dawid Kamfer, ook Icosa se provinsiale leier sê hy meen dat die DA-raad besig is met bedrog aangesien hulle voornemens is om grond in privaat mense se hande te plaas wat die regering dan nie sal kan onteien nie.
"Dit beteken die DA-beheerde raad verontagsaam die besluit wat in Parlement geneem is dat 'n proses oor die grondkwessie moet plaasvind. Icosa vra dat die uitverhuring van Souwesia in Groot-Brakrivier en die Punt-woonwapark in Mosselbaai dringend gestaak moet word.
"Icosa gaan ook 'n brief rig aan die minister van grondsake om te verseker dat alle munisipaliteite gevra word om die verhuring van munisipale gronde oor 'n langtermyn te stop," aldus raadslid Kamfer.
"Icosa sal ook die betrokke nasionale minister vra om 'n ondersoek te doen na die skielike haas met die uitverhuring van spesifiek Souwesia strand. Die vraag is watter reg die munisipaliteit het om 'n referendum af te kondig, wie dit sal hanteer en - meer belangrik - wie daaraan sal kan deelneem."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'