MOSSELBAAI NUUS - Icosa-ondersteuners het op Vryheidsdag, Saterdag 27 April vir groter duidelikheid oor behuisingskwessies betoog.
Ondersteuners het van Aslapark en JCC opgeruk na grond wat alombekend is as Hopeville.
Volgens Icosa se provinsiale leier, raadslid Dawid Kamfer, wil Icosa binne sewe dae terugvoer oor 'n aantal behuisingskwessies hê. Indien die munisipaliteit nie aan die vereiste voldoen om die navrae te beantwoord nie, sê Icosa dat hulle die Hopeville-area sal beset.
Vrae is ook gevra oor die toepassing van kredietbeheermaatreëls deur 'n onafhanklike kontrakteur.
Optoggangers het vreedsaam beweeg onder die waaksame begeleiding van munisipale wetstoepassers en lede van die polisie se openbare orde-eenheid.
Die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee was teenwoordig om die petisie by die Icosa-leierskap in ontvangs te neem. Icosa het egter geweier om die petisie aan hom te oorhandig en het die munisipale bestuurder van intimidasie beskuldig omdat hulle beweer dat hy die bestuurders van taxis in die omgewing aangehits het om geweldadig teen die Icosa-lede op te tree.
Die optog het 'n nadraai by die Da Gamaskop-polisiestasie gehad toe die Icosa-leierskap 'n klagte van aanhitsing tot geweld teen die munisipale bestuurder gemaak het. Icosa het na bewering teenoor die polisie beweer dat die munisipale bestuurder die taxi-bestuurders en eienaars wat normaalweg op die grond parkeer waar die Icosa-ondersteuners bymekaar gekom het, skynbaar sou motiveer om dreigend teenoor die optoggangers te reageer.
"Een man het selfs met 'n knopkierie in die lug geswaai en na ons toe aangeloop gekom. Daar was kinders en vroue in ons groep, die situasie kon lelik ontaard het," het raadslid Kamfer aan die Mossel Bay Home Ads News gesê. "Daar het harde woorde geval en die situasie het die risiko geloop om hand uit te ruk."
Kamfer is ook voornemens om 'n klagte teen die munisipale bestuurder by die Speaker, Raadsheer Petru Terblanche aanhangig te maak.
Die Icosa-leierskap het die Da Gamaskop-polisiestasie na afloop van die optog besoek om 'n klagte van aanhitsing tot geweld teen die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee, te maak.
Vanuit Aslapark is ook besware geopper oor die onwettige aansluitings vir elektrisiteit deur mense wat na bewering onwettig grond beset en wat verskeie wettige inwoners se lewens versuur weens die gevolglike, gedurige kragonderbrekings.
Die Icosa-optoggangers het byeengekom op grond wat gewoonlik deur taxis vir parkering gebruik word. Na bewering het van die taxibestuurders gevolglik geïrriteerd geraak en dreigend teenoor die optoggangers reageer.
Die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee, het op navrae van die Mossel Bay Home Ads News oor die strafregtelike klagte wat Icosa na afloop van die naweek se optog teen hom by die Da Gamaskop-polisie ingedien het, reageer.
Hy sê die enigste aanhitsing tot geweld en onwettige besettings wat daar die afgelope Saterdag tydens die Icosa-optog was, was deur die Icosa-organiseerders teweeg gebring.
Verskeie videos ter bewys van hierdie stelling is in die polisie se besit.
"Die organiseerders van die optog het nie aan die gestelde voorwaardes voldoen nie. Die optog was vir 1 000 mense met 100 beamptes. Daar was egter in totaal slegs 15 volwassenes wat aan die Icosa-optog deelgeneem het. Die reëling was dat die organiseerders om 11:00 die petisie sou oorhandig, waarna hulle op dieselfde roete terug sou beweeg. Teen 11:30 was die klein groepie mense steeds by die taxi-staanplek.
"Na 11:00 het ek die Icosa-organiseerders ingelig dat met die taxi-operateurs onderhandelinge is om tot 11:00 hulle taxi-staanplek op te gee. Ek het ook aangedui dat dit tot probleme kan lei indien die groepie Icosa-optoggangers later op die perseel sou bly. Die organiseerders het egter gesê hulle gaan op die perseel aanbly en ek het die taxi-operateurs so ingelig. Ek het die taxi-operateurs versoek om nie op die terrein te gaan voor 14:00 nie. Die taxi-operateurs was nie hiervoor te vinde nie.
"Dit is elkeen se reg om 'n klag te lê indien hulle 'n geldige rede het. Ek kon nog nooit verstaan waarom mense gereeld ongegronde, irrelevante klagtes by verskeie instellings lê ter wille van mediadekking nie," het die munisipale bestuurder gesê.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'