MOSSELBAAI NUUS - Daar is steeds ongelukkigheid oor die wyse waarop nuwe huise in Herbertsdale aan begunstigdes toegeken word ondanks voortgesette gesprekke met die Mosselbaai-munisipaliteit.
Nou, sê die gemeenskap, het hulle lank genoeg skiet gegee. Sou hulle nie binne sewe dae vanaf Woensdag, 14 November bevredigende antwoorde op hul besware kry nie, sál protesoptrede volg.
Volgens een van die besorgde inwoners, Elvin Booysen, wat sedert 'n opvolgvergadering met munisipale personeel op Dinsdag, 13 November 'n skrywe aan die Wes-Kaapse departement van menslike nedersettings en die relevante ombud gerig het, is die klagtes wat voorgehou word nie na behore aangespreek of opgelos nie.
Die beswaarmakers het hul misnoeë met die bestaande behuisingskomitee, wat kwalifiserende begunstigdes vir die nuwe behuisingsprojek moes identifiseer, herhaal.
Dit volg op 'n vorige vergadering met munisipale verteenwoordigers in Oktober waar beswaarmakers beweringe van bedrog met die toekenning van huise gemaak is.
Daar is onder meer beweer dat huise toegeken is aan mense wat reeds oorlede is.
Boonop is huise glo toegeken aan mense wat nie op Herbertsdale woon nie.
Dié vergadering het ook gevolg op dreigemente deur die gemeenskap om in protes op te ruk na die munisipale kantore as hul besware nie bygelê word nie.
Die munisipale woordvoerder, mnr Colin Puren het by navraag na afloop van Dinsdag se vergadering gesê heelwat van die besware wat die groep besorgde inwoners aanvanklik voorgehou het, is tydens die opvolgvergadering op Dinsdag bygelê.
"Die munisipaliteit het onderneem om sommige van die probleme waarop nie bevredigende antwoorde verskaf kon word nie, aan die provinsiale departement, wat vir die behuisingsprojek verantwoordelik is, voor te lê."
Puren sê die meeste van die geopperde besware is bygelê tydens Dinsdag se vergadering en dat die groep beswaarmakers onderneem het om die gevalle waaroor hul nog steeds 'n dispuut het, skriftelik - met redes vir hul dispuut - aan die Munisipaliteit te voorsien.
"Die Munisipaliteit het onderneem om by ontvangs van die lys, dit aan die provinsiale departement van menslike nedersettings voor te hou."
Hy het die vergadering, wat etlike uur geduur het, as gemoedelik beskryf.
"Daar was geen ultimatum tydens of sedert die vergadering aan die munisipaliteit voorgehou vir die verdere hantering van die navrae nie," sê Puren.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'