MOSSELBAAI NUUS - Verskeie plekke wat dienste aan ouerwordende persone op Mosselbaai bied, moes noodgedwonge saam met Covid-19 in die kryt klim. Huis Elsjè is geen uitsondering. Dié tehuis bied sorg aan pasiënte wat aan demensie ly.
Nadat die Mossel Bay Advertiser navrae ontvang het aangaande Covid-19-gevalle by die tehuis, is amptelike kommentaar aangevra.
Volgens die tehuis te bestuurder, Gert Meiring het 'n aantal van die personeellede aan die einde van Julie en begin Augustus positief vir die virus getoets. "Ons fasiliteit is ook om hierdie rede op 12 Augustus volledig ontsmet. Die eerste inwoner het simptome begin toon op 18 Augustus."
Meiring verduidelik dat die geval aan die department van gesondheid gerapporteer is. Die inwoner is op Vrydag, 21 Augustus getoets en op Sondag, 23 Augustus met die Covid-19-virus gediagnoseer.
"Op 24 Augustus het ek 'n skrywe na alle verwante gerig dat inwoners tot hul kamers beperk word. Dit is egter baie moeilik om persone met demensie in te perk."
Al die tehuis se inwoners is op 25 Augustus vir Covid-19 getoets. "Tot dusver het ons 15 positiewe uitslae gekry en 17 negatief. Twee inwoners is op 25 Augustus op aanbeveling gehospitaliseer. Nog twee inwoners toon tans simptome, maar die res nog geen."
Verdere navrae is gerig oor aantygings dat siek pasiënte se koors gemeet en afwaarts aangepas is. "Dit is absoluut onwaar. Skanderings word op verskillende skofte deur verskillende personeellede gedoen. Indien dit afwaarts aangepas word, dan is die personeel self daarvoor verantwoordelik en bestuur dra nie kennis daarvan nie. Daar word beslis nie so 'n opdrag gegee nie."
Beweringe besweer
Beweringe doen ook die ronde dat siek pasiënte slegs koorsstroop as behandeling ontvang. "Ook dit is onwaar. Aangesien die meeste inwoners privaat mediese fondse het, word daar deurlopend met hulle geneeshere kontak gemaak wat dan behandeling voorskryf."
Meiring bevestig ook dat personeellede voor die aanvang van elke skof 'n skandering deurloop. "Indien enigeen simptome rapporteer, word hulle huis toe gestuur. Hulle mag glad nie werk nie. Een van die vrae is of hulle kontak met persone gehad het wat positief met Covid-19 gediagnoseer is. Indien hulle bevestigend antwoord, word hulle ook nie toegelaat om te werk nie. Indien hulle valse verklarings aflê, het bestuur nie beheer daaroor nie en word die getekende verklaring aanvaar. Geen personeellid wat positief getoets het, het gewerk nie. Hulle was in die PetroSA-veldhospitaal geïsoleer. Personeel wat wag op toetsuitslae, werk ook nie en keer eers terug na 'n negatiewe uitslag of die voorgeskrewe isolasietyd deurloop is."
Volgens Meiring word die voorgekrewe beskermende drag aan personeel beskikbaar gestel sedert 25 Maart nadat die departement van gesondheid hulle riglyne bekendgemaak het. Personeel wat direkte kontak met die Covid-19 positiewe gevalle het, gebruik die vereiste beskermende drag wat 'n weggooibare oorpak insluit.
Op die stelling dat personeel werksaam by die tehuis vrees om onder die omstandighede te gaan werk het Meiring geantwoord: "Beskermende drag word beskikbaar gestel. Daar is egter risiko's aan die versorgingsbedryf verbonde."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'