MOSSELBAAI NUUS - "Die Wet op Onderhoud (Wet 99/1998) reguleer die reg op onderhoud. Meeste vroue neem hul toevlug tot die hof in sake wat oor onderhoud handel. Dis daarom gepas om in vrouemaand vroue te bemagtig bemagtig in hul stryd om onderhoud te eis,".
Proses
Die klaer/klaagster wat aansoek om onderhoud doen sal die hof nader om 'n aansoekvorm te voltooi. Die onderhoudsbeampte dagvaar dan die verweerder om voor die hof te verskyn. Beide partye is geregtig op regsverteenwoordiging, maar behou die reg om in persoon op te tree.
Op die dag wat partye in hof te verskyn, probeer die onderhoudsbeamte 'n skikking tussen die partye bereik. Indien 'n skikking bereik word, teken die verweerder 'n toestemmingsvorm vir die ooreengekome bedrag en word dit deur die landdros 'n bevel van die hof gemaak. Indien daar nie 'n skikking bereik word nie, word die aangeleentheid verwys na 'n landdros wat 'n formele Art 10 ondersoek sal hou.
Dit is basies 'n finansiële ondersoek waar inkomste en uitgawes van beide partye ondersoek word en is die monetêre behoeftes van enige kinders ter sprake. Hierdie ondersoeke geskied in camera, dit word dus nie in ope hof gedoen nie. 'n Hof kan dan, gegrond op die ondersoek 'n bevel maak vir die betaling van onderhoud. Die onderhoudsbedrag word proporsioneel tot elke party se inkomste vasgestel, al word daar nie bevel gemaak teen die klaagster/klaer nie.
'n Belangrike faktor wat die hof in ag neem met 'n onderhoudsbevel is die unieke omstandighede van enige kinders en die lewenstyl waaraan hulle gewoond is. Indien verweerder gedagvaar is en daar voldoende betekening van die dagvaarding op die verweerder was en hy/sy daag nie op vir hof nie, kan die landdros ingevolge artikel 18 'n bevel by verstek maak in die afwesigheid van die verweerder, in ag genome dat die landdros oor inligting oor die inkomste van die verweerder beskik.
Hierdie bevel word van krag sodra dit op die verweerder beteken word. Die verweerder het 20 dae om die hof te nader vir wysiging of tersydestelling van die bevel.
Wanbetaling
By wanbetaling, sou die verweerder nie die onderhoudsbevel nakom nie, verander dit in kriminele verrigtinge. Die klaagster/klaer maak 'n klagte by onderhoudsbeampte en die verweerder word gedagvaar vir die kriminele hof waar hy/sy by skuldigbevinding gevonnis kan word vir versuim om die onderhoudsbevel na te kom.
Belangrike inligting
'n Persoon mag aansoek doen vir onderhoud selfs al is hulle in 'n huwelik wat nie deur ons reg erken word nie, soos 'n Islamiese huwelik of tradisionele verbintenis. Die vraag is of daar 'n wettige plig is om te onderhou wat voortspruit uit die verhouding. Onderhoudsplig is nie slegs van toepassing op minderjarige kinders nie, maar ook op meerderjarige kinders wat nog nie selfonderhoudend is nie.
Enige van die grootouers het 'n onderhoudsplig teenoor kleinkinders, hoewel slegs as hulle dit kan bekostig en die ouers self nie in die kinders se behoeftes kan voorsien nie.
Indien enige van die partye se finansiële behoeftes verander, kan enigeen van hulle hof nader om die onderhoudsbevel te wysig, hetsy vir vermindering of vermeerdering van die bevel. Dis belangrik dat onderhoudsbetalers onthou om by hof aan te meld indien hulle hul werk of inkomste verloor, en om te sorg dat die klaer/klaagster bewus is van die veranderde omstandighede sodat verhoed word dat elke geval in die kriminele hof eindig.
'n Onderhoudshof het die bevoegdheid om bevele van die egskeidingshof oor onderhoud af te dwing en/of te wysig.
Vaderskap
In gevalle waar vaderskap betwis word, maar die verweerder nie bloedtoetse kan bekostig nie, kan die hof beveel dat die staat vir die bloedtoetse betaal. Die hof doen egter 'n finansiële ondersoek ingevolge artikel 21(2) van die Onderhoudswet om vas te stel of die verweerder wel nie in staat is om vir bloedtoetse te betaal nie.
Bloedtoetse afdwing
'n Hof kan 'n ma/klaagster dwing om bloedtoetse te doen indien sy sou weier.
Indien 'n verweerder gedagvaar word en nie geld het om by die hof uit te kom nie, kan die hof beveel dat voorgeskrewe vervoertoelae aan die verweerder betaal word nadat 'n finansiële ondersoek in terme van artikel 11(2) van Onderhoudswet na bekostigbaarheid gedoen is. Twee voorwaardes geld; dat die verweerder nie self kan betaal nie en dat hy/sy oor 'n geldige verweer teen die aansoek moet beskik.
Bevele
Howe is by magte om bevele te maak in onderhoudsaangeleenthede: 'n Hof kan 'n besoldigingsbevel maak dat geld direk van die salaris van die verweerder afgetrek word; 'n bevel maak vir beslaglegging op gelde wat nog verskuldig is aan die verweerder soos pensioengelde of die opbrengs uit die verkoop van 'n huis wat in proses is om verkoop te word. 'n Hof kan ook 'n lasbrief tot eksekusie uitreik vir die verkoop van roerende of onroerende eiendom van die verweerder om onderhoudsverpligtinge na te kom.
Dis belangrik dat vroue besef dat hulle altyd 'n remedie het om onderhoud te bekom en nie moet skroom nie om die hof te vra om hulle in die hele proses by te staan.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'