TUINROETE | KAROO NUUS - 'n Uitbraak van Afrika-varkpes (African Swine Fever) by 'n trop varke van 'n klein varkboer wat agter Groeneweidepark boer, het veroorsaak dat die boer alte-saam 43 van sy varke verloor het. Hierdie uitbraak is op 7 Februarie deur laboratoriumtoetse bevestig.
Michael Noble moes hierdie terug-slag vroeg verlede week hanteer toe hy die karkasse van bykans sy hele trop moes verbrand.
"Net vier van die jonger varkies is nog oor. Ek kan nie glo hulle is gespaar nie," het hy verlede Woensdag gesê.
Noble was aanvanklik bekommerd dat iemand dalk gif gebruik het om sy varke uit te wis, omdat nie een van die ander boere naby hom ook varke verloor het nie. 'n Staatsveearts in George, dr. Leana Janse van Rensburg, het egter bevestig dat dit wel 'n uitbraak van Afrika-varkpes is.
"Dit is die tweede uitbraak wat in die George-omgewing aangemeld is sedert 'n uitbraak in 2022, in Thembalethu," het Janse van Rensburg gesê.
"Die gebied is onder kwarantyn geplaas en gemeenskapslede is versoek om geen varke of varkprodukte uit die gebied te verwyder nie, om verdere verspreiding van die siekte te voorkom."
Afrika-varkpes is 'n virus wat net varke affekteer, en nie na mense versprei nie.
"Geen inenting of behandeling is tans beskikbaar vir die voorkoming van die
siekte nie," het Janse van Rensburg gesê. "Dit beteken dat goeie biosekuriteitsmaat-reëls die beste manier bly om die varkbedryf te beskerm."
Maatreëls om verspreiding te verminder
- Karkasse moet op 'n veilige manier weggedoen word (verbrand of begrawe);
- Varke moet verhoed word om rond te loop, beide om hulle veilig te hou van die siekte en te keer dat hulle dit versprei as hulle dit reeds het.
- Hande, skoene, klere en toerusting moet voor en na kontak met die diere ontsmet word sodat mense nie die virus tussen diere kan versprei nie.
- Enige vleisprodukte moet deeglik gaargemaak word voordat dit aan varke gevoer word.
- Maak seker dat varke wat aangekoop word, van bekende kuddes gekoop word, vry van Afrika-varkpes.
Tekens
Afrika-varkpes is bekend vir die skielike dood van varke, maar daar is wel simptome van die virus, soos asemhalingsprobleme, rooiheid van die vel aan die vark se onderkant en op die ore, agterbeen-swakheid en verlies aan eetlus, wat 'n aanduiding van die siekte is.
Soms kan die vark ook bloed in hul ontlasting en bloederige braking hê. Indien hierdie tekens gesien word, vind jou naaste staatsveeartskantoor by 021 808 5111.
Let wel, Afrika-varkpes is iets heeltemal anders as Varkgriep (Swine Flu) en moet nie met mekaar verwar word nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’