MOSSELBAAI NUUS - Die Barbarians-rugbyklub is geloof vir hulle inisiatief om 'n geleentheid byeen te roep waartydens die gemeenskap opgeroep is tot aksie teen geweld teen vroue en kinders.
Hierdie woorde is uit elke spreker se mond ge-eggo toe die gemeenskap die pawiljoen verlede Woensdag,11 September volgepak het.
Geklee in swart soos versoek, het die gemeenskap solidarteit getoon met die slagoffers van geweldsmisdaad veral teen vroue en kinders.
In die voorste ry, was familielede van Anestacha September, 'n vrou wie se oorskot vyf maande ná haar verdwyning in Augustus 2014 in 'n afgeleë area buite Herbertsdale gevind is. Die man wat van haar moord beskuldig is, glo 'n vorige minnaar, is in aanhouding sedert Desember 2015. Die saak dien steeds voor die hof.
Onder die sprekers was voorsitter van die Barbarians-rugbyklub, Dawid Kamfer, ook Wes-Kaapse Icosa-leier. "Barbarians kan nie net rugby speel nie. Ons moet iets teruggee vir die vroue wat ons elke Saterdag langs die veld ondersteun."
Gemeenskapsleier Lenise Hendricks het mans tydens die byeenkoms aangespreek en gemotiveer dat hulle 'n groot verskil kan maak deur 'n positiewe rol in huishoudings te speel. "Gee julle vroue liefde en toon respek teenoor alle vroue, oud en jonk.
Edinia Grootboom het hartsnare geroer met haar weergawe van Sarah McLachlan se tranetrekkerlied, Angel. "Ek is dankbaar om vanaand aan hierdie kant van die lewe te wees. Met hierdie lied dink ek aan dié wat weg is. Hulle is die warriors. Hulle het geveg tot die laaste. Hoe weet ons watter worsteling was daar nie in hulle laaste oomblike gewees nie?"
Pastoor Fostino Jacobs het gesê uit 'n vrou word 'n nasie gebore en daarom sal die wêreld sonder hulle kripeer.
Die hoofspreker pastoor Debbie Benjamin het nie doekies omgedraai nie.
"My hoof hang in skaamte dat mans die voortou moes neem vir hierdie byeenkoms. As vroue, moes ons eerste leiding geneem het. Ons moet ons geloof in aksie plaas en in solidariteit uitbeweeg teen dit wat nie reg is nie. Solidariteit is om in te haak by jou suster and to walk her home. Ons moet ophou preek, ons moet relevant wees. Voor die einde van September, gaan ons weer ons swart rokkies aantrek en ons gaan stap hof toe."
Na wat verneem word, word 'n samekoms vir vroue op 26 September beplan.
Die evangelis Manny Williams was die programleier tydens die byeenkoms, wat regstreeks op Eden FM uitgesaai is.
Dawid Kamfer, voorsitter van Barbarians-rugbyklub.
Vriende en familie van Anestacha September by 'n byeenkoms teen geweld teen vroue en kinders. September se oorskot is vyf maande ná haar verdwyning in Augustus 2014 op Herbertsdale gevind.
Vroue was in swart geklee.
Pastoor Debbie Benjamin het haar sterk uitgespreek tydens die byeenkoms.
Lees 'n vorige artikel hier: Rugbyklub bring gemeenskap byeen oor geweld teen vroue en kinders
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'