MOSSELBAAI NUUS - Twee van Mosselbaai brandweer se stasiebevelvoerders het die afgelope week aan die voortou gestaan van 'n nasionale intensiewe reddingsoperasie in George nadat 'n woonstelgebou, wat in aanbou was, op 6 Mei ineengestort het.
Meer as 36 jaar diens kon Wayne Sternsdorf (operasioneel) en Kobus van der Mescht (brandveiligheid) egter nie voorberei vir dit wat op hulle in Victoriastraat gewag het nie.
Sternsdorf was spanleier van die reddingswerkers, wat die 32-jarige Gabriel Guambe Saterdag, nadat hy vir vyf dae in die puin vasgekeer was, bevry het. Van der Mescht en sy span het Sondag vier liggame ontdek en Maandag agt.
"Daar is net een doel. Om lewens te red en om mense wat afgesterf het uit die rommel te haal sodat jy vir die families 'n liggaam kan terugbesorg,'' sê Sternsdorf.
Sternsdorf sê: "Die kameraspan het 'n geluid gehoor en ons het dadelik stilte gevra. Dit is 'n snaakse stilte, want skielik raak almal en alles net stil. Ek het dadelik by myself gedink dit is vyf dae, ek twyfel... en toe begin een van die reddingswerkers met 'n ou (Guambe) in 'n gat praat."
Maar, verduidelik die twee, dit is nie net 'n geval van haal iemand uit die rommel uit nie. ''Die toneel word in afdelings verdeel. Elke afdeling het 'n masjien wat grawe, dit is klip, beton, rommel.
Wanneer dit verwyder is, is daar 'n betonblad wat opgelig moet word en dan kyk almal of hulle iets sien. As daar 'n void (opening) is, druk hulle kameras in wat lyk soos 'n besemstok met 'n lig en 'n mikrofoon aan sodat jy met die persoon wat vasgekeer is, kan gesels," sê Van der Mescht.
"Die spotters kyk uit vir enige vorm van lewe. Soms is dit egter net 'n sementsak of 'n hopie klere wat hulle ontdek in plaas van 'n mens, maar "jy hou vas aan hoop."
In Gaumbe se geval moes hulle eers probeer bepaal waar presies hy vasgekeer is en in watter rigting hulle moet begin werk.
"Ons het vir hom gevra om met 'n baksteen of 'n klip teen 'n muur te kap sodat ons kan hoor waarvandaan die geluid kom. Toe moes ons vir hom 'n deur skep. Ons moes deur 'n betonblad met jackhammers, sae en grinders sny en toe ons 'n gat het, was daar eers nog bakstene en gruis wat ons moes weggrawe. Daarna kon hy eers uitgehaal word."
Sternsdorf beskryf dit as die beste gevoel. "Om iemand uit die puin te kry wat lewe, na vyf dae..." Hulle sê hulle sal nie ophou soek tot die hele toneel skoon is nie.
"Miskien is daar nog iemand in 'n holte wat leef," sê Sternsdorf. Van der Mescht sê hy wonder altyd hoe die mense wat hulle op tonele vind wat dood is, die oggend by die huis weg is.
"Ek wonder, het hulle hulle kinders gegroet, op watter manier is hulle van die huis weg. Jy kom op so 'n toneel en dan dink jy die lewe is kort. In ons jare se diens het ek al aaklige tonele gekry en dit gaan altyd deur my gedagtes, hoe is daardie persoon by die huis weg?"
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’