GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Sy oupagrootjie was 'n skoolhoof. So ook sy oupa.
Laerskool Vorentoe se hoof, Schalk Theron (60), glo dus dié beroep was nog altyd in sy bloed.
Theron is nou al sedert Oktober 2012 by Vorentoe aan die stuur van sake, en sê dit is 'n voorreg om in hierdie gebied te woon en werk. "Die gemeenskap is positief, kreatief en gee om vir mekaar en die natuur."
Sy loopbaan het in 1989 as jong onderwyser by Laerskool La Hoff in Klerksdorp begin.
Daarna was hy adjunkhoof by Klerksdorp Primary School, asook Laerskool Outeniqua in George voor hy sy weg Vorentoe gevind het.
Voor hy in oupagrootjie en oupa se voetspore gevolg het, sê Theron, wou hy aanvanklik 'n prokureur geword het, soos sy pa. "Toe hulle egter in my st. 9-jaar [vandag gr. 11] onderwyskeuring by die skool kom doen, het ek gegaan."
Dié einste keuring was vir Potchefstroom, waar hy gebore is en ook later studeer het.
"Ek het by die Potchefstroomse Onderwys-kollege studeer, toe later 'n BA-graad by die PU vir CHO voltooi, asook 'n Gevorderde Sertifikaat in Onderwys in leierskap en bestuur aan die Universiteit van Stellenbosch."
Gunstelinge
"Om kinders te sien groei en ontwikkel." Dít is Theron se gunstelingdeel van waar hy nou is.
"Dit is belangrik dat kinders gelukkig moet wees. Dit is gerusstellend om te sien dat ons 'n verskil in die kinders se lewens maak - ek is trots om te sien dat Laerskool Vorentoe se leerlinge met selfvertroue in die hoërskool uitstyg."
Die lekkerte van die leerders se groei en ontwikkeling tersyde gestel, is die pad egter nie sonder sy hobbels nie. "In die onderwys is daar vandag vele uitdagings, soos administratiewe en finansiële druk. Ook druk om toenemend te verbeter en te presteer."
’n Sportprent van mnr. Schalk Theron wat vir Laerskool Vorentoe se skoolkoerant, die Brolloks Burger, geteken is. Skets: Blackie Swart vir Brolloks Burger
Hy beskryf Vorentoe as 'n klein intieme skool waar kindwees verstaan word. "Ons moedig leerders aan om 'n gesonde balans tussen sport, kultuur en akademie te handhaaf."
Die woorde Keep moving forward pronk op een muur soos jy die skool binnegaan, en Theron sê dit rig hulle.
"Ons gaan trots vorentoe, en skep geleenthede, maar sonder die wil om altyd die beste te wees teen alle koste."
En wat maak 'n skool waar hy aan die stuur is werk?
"Ons is 'n Christen-skool. Die voorbeeld wat Jesus vir ons gestel het en ons waardes bepaal ook hoe ons as personeel met mekaar en teenoor ander optree.
"Omgee en wedersydse respek tussen onderwysers en ouers is deel van die wenresep."
Wanneer Theron tuis is, berus sy wenresep weer op familietyd. "Ek en my vrou Charmaine geniet dit om saam inkopies te doen en koffiewinkels te besoek. Ek lees graag en bou LEGO-modelle. Sy draf gereeld, en ek probeer!"
Hy sê hulle sou ook graag 'n paar reise wou kafdraf, plaaslik, in die buurlande en oorsee. "Ek is een van die min hoofde wat nie gholf speel, visvang of jag nie."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’