MOSSELBAAI NUUS - Wanneer mense bloed skenk, red een skenking drie lewens en wanneer 'n hond bloed skenk, word net een lewe gered. 'n Boerboel van Danabaai, Lindie (6) is haar lewe te danke aan 'n Alaskan Malamute, Maja (8).
Lindie is die afgelope week met bosluiskoors en bosluitsbytkoors deur dr Henk Basson van die Danabaai Veterinêre Kliniek gediagnoseer.
Haar eienaars, Martin en Janine Wissekerk het Lindie na Basson geneem nadat sy siek geraak het. Sy het behandeling ontvang maar teen Dinsdag, 22 November het haar toestand drasties verswak. Al uitweg was 'n bloedoortapping maar eers moes 'n geskikte skenker na vore kom. Die minute het verby getik en Basson se personeel het 'n boodskap op sosiale media versprei: "Ons is dringend opsoek na 'n bloedskenker vir 'n baie siek hond by ons praktyk. Die skenker moet bo 35kg wees en tussen die ouderdom van twee tot agt jaar. Dit moet 'n gesonde hond wees."
Maja se eienaar, Elbie van der Merwe het dadelik ingestem dat Maja kan bloedskenk. Maja is immers 'n gesonde en gelukkige hond wat aan al die vereistes vir bloedskenk voldoen.
Maja is dieselfde middag na die kliniek in Danabaai waar sy vir die bloedoortapping gesedeer is. "Ons sedeer die skenker sodat dit nie vir die skenker 'n slegte ervaring is nie," sê Basson. Hy sê ook 'n skenker moet ouer as een jaar oud wees en meer as 40kg weeg. Anders kan nie genoeg bloed uitgetap word nie.
Tydsame proses
Volgens Basson is die bloedoortapping 'n tydsame proses. "Die bloed loop in 'n sakkie met 'n anti-stolmiddel in. Honde het verskillende bloedgroepe so dit is belangrik om die bloed wat geskenk is stadig oor te tap, anders kan daar 'n allergiese reaksie wees." Altesaam 500ml is tydens die skenking gebruik.
Basson sê die skenking begin met een druppel bloed vir elke 12 sekondes. Die proses duur 'n halfuur. Daarna word een druppel bloed vir elke vyf sekondes oorgedra.
Lindie het nie 'n allergiese reaksie getoon op die Malamute-bloed nie en die skenking is suksesvol voltooi.
Tydens die Mossel Bay Advertiser se besoek aan die kliniek kon Lindie al met haar drup voor die kliniek vir foto's poseer. Haar heldin, Maja het haar van 'n afstand gegroet want al deel Lindie nou Malamute-bloed is die twee steeds nie maats nie.
Martin en Janine Wissekerk saam met hulle hond, Lindie wat 'n bloedoortapping ontvang het. Die paartjie was verheug om die skenker wat Lindie se lewe gered het, in lewende lywe te ontmoet.
Maja van der Merwe is 'n liefdevolle hond met sterk moedersinstinkte, aldus haar eienaar, Elbie. Maja is nou ook 'n bloedskenker.
Janine en Martin Wissekerk saam met dr Henk Basson en hulle geliefde hond, Lindie. Lindie is haar lewe te danke aan 'n bloedskenker, Maja.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'