MOSSELBAAI NUUS - Die polisiebiddag wat sedert 2015 deur die Groot-Brakrivier se gemeenskapspolisiëringsforum begin is, het weer op Sondag, 20 Augustus in die Congregational Kerk, Greenhaven, plaasgevind.
Die fokus van die diens is om te bid vir die veiligheid en beskerming van nooddiens werknemers. Dit sluit personeel van die Suid-Afrikaanse polisiediens, die verkeersdepartement, verpleegsters, ambulansdienste, brandweer asook die NSRI in. Besoekers het gebid vir die beskerming van die veiligheidsbeamptes en vir die polisiediens om 'n wedersydse beter verhouding met inwoners te kweek.
Die voorsitter, mnr Johann Muller sê die beskerming van die gemeenskap raak elke inwoner. "Daarom moedig ons die groter Mosselbaai aan om jaarliks saam met ons hierdie spesiale diens by te woon."
Verskeie kore en orkeste het tydens die biddag opgetree. Dit het die Groot-Brakrivier Gekombineerde Brigade, Star of Bethlehem en die Gesamentlike Kerkkoor insluit.
Die waarnemende bevelvoerder van die Da Gamaskop-polisiesone, kol Una Saayman en Mosselbaai se uitvoerende burgemeester, Harry Levendal was die hoofsprekers van die dag.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'